Staptog op Jeugdag

Die Universiteit Stellenbosch en Visit Stellenbosch vat vanjaar weer hande vir die staptog vir maatskaplike geregtigheid – van Stellenbosch tot op Pniël – wat op Jeugdag (16 Junie) sal plaasvind.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier.

Credit: Angelo Julies

Die Universiteit Stellenbosch en Visit Stellenbosch vat vanjaar weer hande vir die staptog vir maatskaplike geregtigheid – van Stellenbosch tot op Pniël – wat op Jeugdag (16 Junie) sal plaasvind.

Die staptog van 16 km, die vierde sedert die inisiatief in 2020 bekend gestel is, maak deel uit van die skarefinansieringsveldtog #Action4Inclusion, wat studieskuld help vereffen en studente in staat stel om tot ons land by te dra. #Action4Inclusion strook met die rektor en visekanselier se projek #BridgeTheGap, wat beoog om die tekort aan finansiële bystand vir tersiêre studente, veral die sogenaamde “ontbrekende middel”, te oorbrug en te sorg dat geen verdienstelike student agtergelaat word nie.

Die staptog begin om 08:00 by die Rynse Kerk op die Braak-dorpsplein in Stellenbosch se sakekern en eindig op Pniël, wat sy geskiedenis na ’n gemeenskap van bevryde slawe teruglei.

Hoewel die aantal mense wat in lewende lywe aan die staptog kan deelneem sy maksimum bereik het, nooi die universiteit maatskappye, alumni, vriende van die US, universiteitstudente en -personeel én die breër virtuele gemeenskap om die geleentheid as virtuele deelnemers mee te maak en inklusiewe onderwys te ondersteun.

“Die staptog is ’n buitengewone geleentheid om ’n ander aspek van Stellenbosch saam met van die kernrolspelers op die dorp te ervaar,” sê dr. Nicky Newton-King, voorsitter van die US Raad.

“Die roete is fisiek redelik uitdagend, maar is ook leersaam en insiggewend. Ek sien daarna uit om vanjaar as medeleier van die staptog op te tree.”

Ander US-deelnemers sluit in prof. Thuli Madonsela, direkteur van die Sentrum vir Maatskaplike Geregtigheid; prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, en Masilo Silokazi, voorsitter van die studenteraad (SR).

Silokazi moedig medestudente aan om deel te neem en ’n tasbare verskil in die lewe van hul portuur in nood te maak.

“Wanneer mense se akademiese en professionele loopbaan nie deur finansiële beperkings aan bande gelê word nie, kan hulle akademies floreer en hul ideale najaag,” sê sy.

Deelname is gratis, maar deelnemers word aangemoedig om skenkings te maak op #Action4Inclusion se skarefinansieringsblad om tot die US se missie van inklusiewe onderwys by te dra.

Die besluit om die staptog op Jeugdag aan te bied is op sigself betekenisvol. Dié dag gedenk die gebeure van die Soweto-opstand in 1976, ’n sentrale oomblik in die stryd om vryheid en gelykheid in Suid-Afrika. Deur op dié dag te stap, eer die US dus die nagedagtenis van die jeug wat vir geregtigheid baklei het, en herbevestig die universiteit se verbintenis tot maatskaplike geregtigheid en inklusiwiteit.

Daarbenewens is die staptog deesdae ’n belangrike brugbou-aktiwiteit en ’n platform vir besinning oor Suid-Afrika se verdeelde verlede namate stappers by die oorblyfsels van gedwonge verskuiwing en slawerny verbystap.

“Die staptog vir maatskaplike geregtigheid spruit uit die US se strewe om ’n sinvolle bydrae te lewer om die verdeeldheid van die verlede te oorkom en die samelewing te skep wat ons Grondwet beoog, naamlik een wat op maatskaplike geregtigheid, demokratiese waardes en menseregte gegrond is en waar elke burger se lewe verbeter en elke mens se potensiaal ontsluit word,” sê Madonsela.

Met #Action4Inclusion het die US al aansienlike vordering gemaak om studieskuld te help uitwis.

Die veldtog het tot dusver 97 studente bygestaan om hul finansiële hindernisse te bowe te kom en verder te studeer.

De Villiers, wat jaarliks as medeleier aan die staptog deelneem, sê geen student behoort as gevolg van finansiële probleme toegang tot hoër onderwys geweier te word nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.