Phillidene Moses en Sheryline Paneel van Cloetesville voor die Stellenbosch-stadsaal nadat hulle vanjaar se staptog deur die dorp voltooi het.Foto: Yaël Malgas


Die jaarlikse Walk with Disability het Saterdag (16 November) weer by die Stellenbosch-stadsaal begin toe deelnemers deur die dorp beweeg het.

Nasionale bewusmakingsmaand van die regte van mense met gestremdhede word vandeesmaand gevier en ChangeAbility het die staptog aangebied om bewusmaking te skep.

Dr. Cindy Wiggett-Barnard, die uitvoerende hoof van ChangeAbility, het die deelnemers na afloop van die staptog bedank vir hul hulp om die inklusiwiteit en toeganklikheid van die dorp vir mense met gestremdhede uit te lig. Sy het die Stellenbosch-munisipaliteit bedank vir sy pogings om ’n meer inklusiewe dorp vir mense met gestremdhede met sy infrastruktuur, dienste en ontwikkelingsprojekte te skep.

“Inklusiwiteit is nie ’n eindbestemming nie, maar eerder ’n reistog,” sê Wiggett-Barnard.

Richardo Lodewyk, ’n portuur-ondersteuner vir ChangeAbility, was een van die voorstappers in die staptog. Hy sê daar is nog baie werk om te doen om mense met gestremdhede hul volwaardige plek in die samelewing te gee.

“Hierdie maand is nie net ’n tyd vir nadink nie, maar ook om aksie te neem waar ons streef om ’n inklusiewe omgewing te skep waar elkeen met ’n gestremdheid sonder struikelblokke kan leef. Opvoeding is ’n belangrike deel hiervan. Ek spoor almal aan om die witskrif oor die regte van mense met gestremdhede na te gaan. Jy het regte en julle moet vertroud raak met die regte – niks vir ons sonder ons nie,” sê Lodewyk.

Byna 400 mense het vanjaar deelgeneem, insluitend mense met gestremdhede, gemeenskapswerkers, raadslede asook vriende en familie.

Gemoedere het hoog geloop toe die groep in Drostdystraat beweeg en die eindpunt van die staptog byna in sig was. Foto’s: Yaël Malgas

Verskeie organisasies van Stellenbosch en verder het aan die staptog deelgeneem. Misiwe Mase, Solly Baloyi en Lungile Gxagxa van Epilepsie Suid-Afrika, almal in wit geklee, was onder die deelnemers. Foto: Yaël Malgas

Aletta van Wyk, in haar rolstoel, is deur Joslyn George op die roete ondersteun. Foto: Yaël Malgas

Dr. Cindy Wiggett-Barnard, hoof uitvoerende beampte van ChangeAbility die organiseerders van die “Walk with Disability”, aan die woord. Foto: Yaël Malgas

Daar gaan hulle! Deelnemers aan die “Walk with Disability” trek weg van die Stellenbosch-stadsaal. Foto: Yaël Malgas

Die VGK se brigade het soos oudergewoonte die gesorg vir die Foto: Yaël Malgas

You need to be Logged In to leave a comment.