Jan Braai se jongste braairesepteboek, Atmosvuur, is ’n ware braaibybel.


Die braaimeester en die gesig agter Nasionale Braaidag, Jan Braai, het pas sy jongste braaiboek, Atmosvuur, die lig laat sien. En die eindprodukte is ’n behoorlike bielie van ’n braaibybel, wat ’n moet is vir enige ywerige buite-kok asook vir die nuweling wat die vuur wil bemeester.

Vanjaar is 20 jaar sedert Jan met Nasionale Braaidag vorendag gekom het met die doel om ’n geleentheid te skep waarop die hele Suid-Afrika om die vuur bymekaar kan kom.

“Op hierdie nasionale dag, op 24 September elke jaar, wapper ons as Suid-Afrikaners die vlag en vier ons ons gedeelde erfenis. Ek het ’n leidende rol in hierdie beweging gespeel; ek doen dit steeds en beplan om dit vir die res van my lewe te doen,” vertel Jan.

“Ons noem dit braai. Ek het die voorreg gehad om boeke te skryf en te publiseer, deur Suider-Afrika en die wêreld te reis vir die verfilming van ’n televisieprogram oor reis en kosmaak, en Nasionale Braaidag te bevorder. Ek het nou ’n skatkis vol braaikennis wat ek nie 20 jaar gelede – aan die begin van hierdie reis – gehad het nie. Dit het op ’n natuurlike manier oor die jare ontwikkel danksy dít waarmee ek elke dag besig is.”

Die omslag van Jan Braai se nuwe boek, Atmosvuur.

Dus is Jan se Atmosvuur ’n uiteinde van 20 jaar se braaikennis wat hy opgedoen het en met resepte en ervaring hiervan oor Suid-Afrika en die wêreld heen.

Die boek behels ’n skatkis kennis van elke aspek van kos oor die vuur maak, hetsy op ’n rooster, in die pot of in foelie of selfs sommer direk bo-op die kole gebraai – en, om presies te wees, met 200 resepte vir die braailiefhebber.

Atmosvuur het ook insiggewende wenke oor toerusting, allerlei metodes om kos oor die kole voor te berei – voorgeregte, hoofgeregte, nageregte, tussengeregte en sommer lekker-eet-geregte.

Hier is een van die talle lip-lek-resepte in Atmosvuur, wat die beste van albei wêrelde – braai en potjiekos – kombineer.

Toets Jan se bottertikkahoender-resep hierdie Erfenisdag. Foto: Atmosvuur

Bottertikkahoender

Twee weergawes van “hoenderkerrie in ’n tamatieroomsous” swerf in die wêreld se kospotte rond – botterhoenderkerrie en hoendertikkamasala. Baie veranderlikes is deel daarvan, soos die soort tamaties wat jy gebruik – pasta, puree of vars.

Watter soort room – vars, klapper, ingedampte melk, ensovoorts – speel ook ’n rol. Met botterhoenderkerrie kry die sous boonop ekstra botter.

Jy kan die hoender marineer en braai voordat dit in die potjie gaan of dit in die potjie self braai. Net omdat die lewe swaar kán wees, beteken nie dit hóéf te wees nie – dit kan eerder heerlik wees. Hier is dus ’n beste-van-albei-wêrelde-potjiekosresep waarin al die kennis en ervaring saam tot ’n enkele uitstekende maaltyd geprut het:

Jy benodig vir 4

• 800 g ontbeende hoenderdytjies of -borsies

• 10 sosatiepenne

Vir die marinade

• 1 sopie medium kerriepoeier

• 1 teelepel sout

• 1 teelepel swartpeper

• 1 koppie gewone volroomjogurt

Vir die potjie

• 1 ui

• 4 knoffelhuisies

• gemmer (in volume net soveel as die knoffel)

• 1 sopie olyfolie

• 1 teelepel medium kerriepoeier

• 1 teelepel fyn komyn

• 1 teelepel fyn koljander

• 1 teelepel sout

• 2 pakkies tamatiepasta (altesaam 100 g)

• 125 g botter

• 1 koppie vars room

• vars koljander

Laat waai!

1. Sny die hoender in hapgrootte stukke.

2. Maak die marinade: Meng al die marinadebestanddele saam in ’n bak. Gooi die hoender by, meng deeglik en laat dit marineer vir minstens twee ure of oornag, indien moontlik. Ek gaan dit nie oral in die boek noem nie, maar wanneer dit voel na die regte oomblik, dan sal ek. Hier voel dit reg: Natuurlik moet jy die bak met iets bedek en natuurlik moet jy dit in jou yskas los. Gaan steek jou vuur aan.

3. Maak die potjie: Kap die ui op. Kneus en kap die knoffel op en rasper die gemmer. Verhit die olie in jou potjie en braai die ui vir sowat vyf minute tot sag. Gooi die knoffel, gemmer, kerriepoeier, komyn, fyn koljander en sout by en laat dit so braai vir een minuut.

4. Nou gooi jy die tamatiepasta by en alles vir nog ’n minuut of drie saambraai totdat jy kan sien die tamatiepasta begin karameliseer. Voeg dadelik die botter en room by en laat prut rustig.

5. Ryg die hoenderstukkies op die sosatiepenne en krap die marinade wat oor is by die pruttende potjie. Braai die sosaties oor medium warm kole vir sowat 10 minute. ’n Swart kolletjie hier en daar is doodreg – dis net gekarameliseer.

6. Haal die hoender van die sosatiepenne af en voeg by die potjie, laat dit dan prut vir vyf minute of tot jy gelukkig is met wat jy sien. Soos met alle potjies wat jy ooit sal maak – gooi ’n leksel water by as dit ’n bietjie droog raak.

7. Bedien met vars koljander en die bykosse en sambal van jou keuse.

You need to be Logged In to leave a comment.