Steenenbrug oop ná opgradering

Stellenbosch se oudste en eerste brug, Steenenbrug, is ná aansienlike opgradering op 5 April deur die uitvoerende burgemeester, Gesie van Deventer, amptelik oop verklaar.

Van links is die munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, die burgemeester, Gesie van Deventer, raadslid Johannie Serdyn (Wyk 11), Johan Fullard (bestuurder: paaie, vervoer, stormwater) en onderburgemeester, Jeremy Fasser, by die amptelike opening van die Steenenbrug.Foto:

Credit: SYSTEM

Stellenbosch se oudste en eerste brug, Steenenbrug, is ná aansienlike opgradering op 5 April deur die uitvoerende burgemeester, Gesie van Deventer, amptelik oop verklaar.

Stellenbosch se munisipale woordvoerder, Stuart Grobbelaar, sê die brug, ook bekend as die Distillery Road Bridge, het oor die afgelope jaar aansienlike opgradering en konstruksiewerk ondergaan om strukturele integriteit, veiligheid en verbeterde verkeersvloei te verseker.

Die konstruksiewerk van die opgradering van die brug het bykans R30 miljoen beloop.

“Die brug het nou uitgebreide opgraderings en opknappings ondergaan. ’n Nuwe dubbelbaanbrug, wat ook ’n voetganger- en fietsoorgang insluit, is gebou terwyl die presiese posisie en belyning van die oorspronklike brug gehandhaaf is.

“Die sentrale klipaanleg is ook in sy huidige ligging behou en so onveranderd moontlik gelaat.

“Die bestaande paaltjies by die brugingang is ook as ruimtelike merkers hergebruik,” sê Grobbelaar.

Die wyksraadslid vir Wyk 11, Johannie Serdyn, sê die brug gaan veral voordelig wees vir plaaslike sakeondernemings in die nywerheidsgebied en in die toekomstige Adam Tas Korridor-ontwikkelingsprojek.

“Ons is dankbaar vir die opgradering en is opgewonde vir die toekoms,” sê Serdyn.

Die oorspronklike brug wat op hierdie plek gestaan ??het, is die oudste brug in die Stellenbosch-streek.

In Augustus 1691 het die heemraad (die destydse dorpsraad) besluit om ’n brug langs die loop van die ou wapad te bou waar dit die Dwarsrivier aan die voet van die Papegaaiberg oorgesteek het. Met inagneming dat die heemraad net genoeg finansiering gehad het om een ??brug te bou, is op hierdie spesifieke ligging vir die brug ooreengekom omdat dit waens in staat sou stel om makliker die rivier oor te steek op die hoofroete van die Kaap.

Steenenbrug was sowat 260 jaar lank die hoofingang na Stellenbosch van die Kaap – van 1691 tot die vroeë 1950’s.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.