Stellenbosch-belangegroep nader hof oor Botmaskop

Ten spyte van teenkanting en versoeke vir die openbaredeelnameproses om hersien te word, het die Stellenbosch-munisipaliteit in Julie grond met die ontwikkelaars van die Botmaskopberg-ontwikkeling geruil.


Ten spyte van teenkanting en versoeke vir die openbaredeelnameproses om hersien te word, het die Stellenbosch-munisipaliteit in Julie grond met die ontwikkelaars van die Botmaskopberg-ontwikkeling geruil.

Volgens alle aanduidings gaan die ontwikkeling nou voort, maar die Stellenbosch-belangegroep wend hulle nou na die hooggeregshof in Kaapstad om ’n tydelike interdik teen verdere bouwerk te verkry.

In sy hofaansoek vra die plaaslike organisasie ook die hof dat sekere besluite deur die ­munisipaliteit en die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelings-beplanning, Anton Bredell, tersyde gestel word.

Die ontwikkeling teen die hange van die Botmaskopberg deur Botmaskop Fynbos Estate sal 77 wooneenhede behels. Die ontwikkelaars het die munisipaliteit gevra om 4,69 hektaar grond vir ’n gelykstaande stuk grond te verruil. Dié verruiling is tydens die Julie-raadsvergadering goedgekeur.

Volgens ’n waardasieverslag wat deel was van dié item op die raad se sakelys, word beide die ontwikkelaar én die munisipaliteit se grond op R1 950 000 gewaardeer.

Kommentaar in teenkanting teen die verruiling het vanuit die gemeenskap gekom. Onder die teenstaanders is die plantkundige dr. Brian du Preez. Hy voer aan die ontwikkeling moes nooit goedgekeur gewees het nie, aangesien dit in ’n kritieke, biodiverse gebied geleë is (“Grondruil kan flora knou”, Eikestadnuus, 29 Julie).

Casabio, ’n organisasie sonder winsoogmerk en wat toegewy is aan die bewaring van die wêreld se biodiversiteit, het ook amptelik teen die grondverruiling beswaar gemaak, asook inwoners. Een inwoner het gesê die ontwikkelaars het nie besef hulle sou soveel opdraande hê om op dié spesifieke stuk grond te bou nie.

Die GOOD-party, by monde van Marius van Stade, het reeds in Mei teen die ontwikkeling kapsie gemaak. GOOD voer aan die openbaredeelnameproses vir die verruiling was gebrekkig, omdat die advertensie vir die deelnameproses nie in die plaaslike gemeenskapskoerant gepubliseer is nie, maar eerder in Die Burger. GOOD voer aan dat die munisipale grond wat verruil sou word, en uiteindelik verruil is, geoormerk was vir behuising en die openbare grond moes vir dié doeleinde gebruik word.

Die belangegroep vra die hof om ’n bevel uit te reik dat die omgewings-magtiging wat in November 2023 deur die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning ingevolge ’n aansoek in Februarie 2021 toegestaan is, nie geldig is nie.

Die aanvanklike goedkeuring was vir ’n berg-vakansieoord.

Luidens hul verklaring verduidelik die belangegroep hy het die ontwikkeling van ’n klein hotel, swembad en 15 chalets goedgekeur. Die ontwikkeling sou ’n voetspoor van een hektaar op ’n eiendom van 30 ha wees. Die projek is sedertdien aan verskeie ontwikkelaars verkoop en die omvang daarvan is vergroot.

Die groep vra die hof om te verklaar dat die Botmaskop Fynbos Estate en sy opvolger, Reset Properties, onwettig opgetree het deur nie die belanghebbende en geraakte partye van die 2021-omgewingsaansoek in te lig nie, asook om die omgewingsmagtiging van 8 Februarie 2021 te hersien en tersyde te stel. Hiermee tesame moet die munisipaliteit se grondverruiling ook tersyde gestel word, vra die belangegroep.

Dr. Werner Roux, die mede-ontwikkelaar, het aan Die Burger gesê die grond is gekoop met al die regte en goedkeuring reg en daarvolgens gaan die ontwikkeling voort.

Roux verduidelik ’n aantal van die erwe is reeds gekoop en konstruksie is deur die eienaars begin.

Volgens die Stellenbosch-munisipaliteit is hy bewus van die hofgeding en regsverteenwoordigers is aan­gestel om die saak te hanteer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.