Atlete van ‘n plaaslike skool in aksies op die Van der Stel-sportgronde. Die gronde sal vir 30 jaar deur Stellenbosch FC bestuur word. Credit: Yaël Malgas

‘n Belegging van R395 miljoen kom vir die Van der Stel (VDS)-sportterrein nadat die Stellenbosch- munisipale raad ‘n huurooreenkoms van 30 jaar met die Stellenbosch-sokkerklub (FC) goedgekeur het.

Die munisipale raad het op Dinsdag (31 Maart) se raadsvergadering met 30 stemme besluit om die plaaslike premierligaklub die leisels van die sportterrein te gee. Dit volg nadat die munisipaliteit ‘n tender uitgereik het vir die instandhouding en ontwikkeling van dié eeu oue sportkompleks.

Meer as 20 sportklubs noem die VDS-sportkompleks hul tuiste, met van veerpyltjies tot crossfit wat van die geriewe gebruik maak. Talle van die klubs het in die openbaredeelnameproses hul misnoeë met die voorgestelde ooreenkoms uitgespreek.

Die huidige VDS-sportraad, Vriende van Stellenboschberg en 13 individue het hul kommer uitgespreek oor die eksklusiwiteit wat die sokkerklub moontlik oor die kompleks kan hê.

Pieter Lotz, die voorsitter van die VDS- sportraad, sê dit is met ‘n swaar hart wat hulle van die besluit kennis neem. “As die sportraad, in samewerking met die SSRA, wag ons tans op die amptelike kommunikasie en bevestiging van die munisipaliteit rakende die status van die besluit, die voorgenome tydlyn vir die implementering daarvan, asook die verwagte impak op verskeie sportkodes sal hê . . . Dit raak nie net die onmiddellike voortbestaan van verskeie sportkodes nie, maar kan ook die langtermynontwikkeling en volhoubaarheid van sport in die gemeenskap beïnvloed,” lui die raad se verklaring.

“Die sportraad oorweeg tans verskeie moontlikhede en alternatiewe rakende die verdere hantering van die situasie en die prosedures wat gevolg behoort te word.”

Sommige teenstanders meen ook die ontwikkeling sal verkeersprobleme vererger. “Die voorgestelde langtermyn-huurkontrak sal [ontwikkelings- planne] ernstig belemmer of selfs die volhoubare herstrukturering van die opkomende sentrale Stellenbosch onmoontlik maak in die stedelike gebied tussen Andringastraat en Papegaaiberg, wat die Adam Tas-korridor, die spoorwegstasie en die ou sakesentrum insluit,” lui die Vriende van Stellenboschberg se kommentaar, wat tydens die openbare deelnameproses aan die munisipaliteit oorhandig is.

GOOD en die Patriotiese Alliansie het hul beswaar teen die planne op die raadsvergadering uitgespreek. Grechard Petersen van GOOD wou weet hoe die oorhandiging van die geriewe die taxi-staanplek en informele handelaars, wat ook op erf 235 is, sal beïnvloed.

Stellenbosh FC was egter die enigste bieër wat aan die vereistes voldoen het.

Tamryn Kumm, die burgemeesterskomiteelid vir jeug, sport en kultuur, sê die oorhandiging bied ‘n langtermyn-oplossing vir die instandhouding en ontwikkeling van die sportkompleks.

Stellenbosch FC het teen druktyd nie op Eikestadnuus se navraag gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.