No caption found

Angelo Julies

Kom loer by die Stellenbosch-stadsaal by die eerste Stellenbosch-wintermark in waar jy ’n verskeidenheid produkte van eetgoed tot klere en kunsvlyt sal aantref.

Die wintermark is elke dag tot 17 Julie van 09:00 tot 17:00 oop en beloof om iets vir die hele gesin te hê. Bring dus die kleingoed en sommer die hele familie en ondersteun plaaslike kleinsakeondernemings.

Lorinda Koen, die organiseerder, sê die wintermark is ’n geleentheid vir kleinsakelui om ’n ekstra inkomste te verdien.

“Baie van ons is van Root44 en sedert 2020 was dit baie moeilik vir ons. Hierdie is ’n geleentheid vir ons om ’n bietjie geld te maak en ook om ons werkers te kan betaal.”

Koen sê sy het die idee vir ’n wintermark reeds in 2020 gekry, maar toe het Covid-19 uitgebreek en haar planne vir twee jaar agteruit geskuif.

“Hier is daagliks 25 amptelike stalletjies met ’n paar opwip-stalletjies wat net op sekere dae kom,” voeg sy by.

Sy sê hulle is gelukkig dat beurtkrag hulle nie onderbreek nie omdat die stadsaal kragopwekkers het.

“Daarom hoef mense nie bekommerd te wees oor beurtkrag nie – hier het ons altyd krag. En hier is letterlik van alles en ’n groot verskeidenheid produkte om van te kies – vir oud en jonk,” voeg sy by.

Koen sê hulle hoop dat die wintermark ’n jaarlikse instelling sal word. 

You need to be Logged In to leave a comment.