Die rugbyklubs in Stellenbosch en omgewing wys nou in week drie van die ligakompetisies van die Westelike Provinsie-rugbyunie dat hulle nie net daar is om die ligas vol te maak nie, maar dat hulle ook kaatjies van die baan op die rugbyveld kan wees.
In Superliga B word Stellenbosch deur drie spanne verteenwoordig, naamlik Van der Stel-Evergreens (VDE), Kylemore en Franschhoek. VDE het in al drie sy tuiswedstryde tot dusver die botoon gevoer deur met Hamlets, Strand en Bellville af te reken, maar reis nou na Paarl vir sy volgende kragmeting teen Vineyards.
Franschhoek het Saterdag (4 Mei) opgemaak vir sy twee nederlae deur Strand op die Gustrouw-sportveld met 16-27 te klop. Franschhoek het in sy vorige twee kragmetings teen Hands & Heart en UWK vasgeval, maar hulle is nou weer op koers in die kompetisie.
Franschhoek is Saterdag (11 Mei) die gasheer vir Hamediehs van Athlone. Hamediehs en Collegians het die afgelope Saterdag ook met hul eerste wedstryde in die kompetisie begin.
Kylemore het vier wedstryde gespeel – een gewen en drie verloor – en het Saterdag teen UWK met 8-56 die onderspit gedelf. Kylemore kom juis Saterdag teen UWK se buurman, Bellville, te staan, wat teen VDE met 34-29 getroef is, en laasgenoemde sal die Stellenbossers wil terugbetaal vir die nederlaag. Kylemore sal dus in sy pasoppens moet wees vir die gekweste Bellvilliete op hul tuisveld.
Pniël Villagers is ná drie wedstryde ook sy plek boaan die punteleer in Superliga C kwyt en Macassar gee nou die pas aan. Albei het drie wedstryde gespeel, maar Villagers het nie volpunte ingesamel nie en lê tweede op 13 punte, terwyl Macassar op 15 staan.
Villagers ontvang Saterdag besoek van Strand United nadat hulle die afgelope Saterdag ’n loslootjie gehad het.
In die Noordelike liga word Stellenbosch deur Stellenbosch-Coronations, Excelsior en Raithby Universals verteenwoordig. Corries pak Sir Lowrians in Sir Lowry’s Pass, RU besoek Albions in Paarl en Excelsior het ’n loslootjie nadat hy die enigste span was wat Saterdag gespeel het. Hy het naelskraaps met 23-25 teen Sir Lowrians op die Cloetesville-sportvelde verloor.
In die Suidelike liga het Blue Stars van Klapmuts Rocklands met 38-0 geklop en hy kom Saterdag teen Retreat in Allenby-rylaan, Steenberg, te staan.