Die Stellenbosch-krieketklub het sy jaarlikse ses-aan-’n-kant-liefdadigheidstoernooi Vrydag 15 Desember op die Idasvallei-sportterrein aangebied, met 12 spanne wat mekaar die stryd aangesê het.
Die toernooi het drama en opwinding opgelewer, soos toe die uiteindelike wenners, Young Gardeners, hul ouer broer en die verdedigende kampioene, Gardeners, in die kwarteindronde om die laaste bal geklop het. In die plaat-eindstryd het Phoenix met ’n oorwinning teen Magnificent Ducksters geseëvier.
Die beker-eindstryd tussen Young Gardeners en All Stars was ook ’n naelbyt-affêre, met eersgenoemde wat die wenners was nadat hulle die wenlopie in die laaste boulbeurt aangeteken het.
Die Stellenbosch-krieketklub het net soos in 2022 besluit om weer die opbrengste van die toernooi deur middel van kospakkies aan minderbevoorregtes in die gemeenskap te skenk. Dié kospakkies is verlede Donderdag (11 Januarie) aan 50 huisgesinne uitgedeel.
Die klub het sy dank aan almal wat die toernooi moontlik gemaak het, uitgespreek, veral Puma Garage Idasvallei en Timbuild Stellenbosch. Die bestuur en spelers beoog om, met ondersteuning, meer na die breër gemeenskap uit te reik.