Die eerstespan van die Stellenbosch-krieketklub het hom Sondag (3 November) ná ’n nederlaag teen die Robertson-krieketklub die vorige dag mooi opgetel en ’n oorwinning teen Coronations behaal.
Die spanne het mekaar in ’n T20-Gemeenskapsbekertoernooi se Premier A-stryd op die Idasvallei-sportterrein die stryd aangesê, maar die Stellenbossers het met beide die bal en kolf beter gevaar en die wedstryd met sewe paaltjies beklink.
Die span van Pniël het eerste gekolf en 101/7 in hul 20 boulbeurte aangeteken. Julio Meyer (28; 4×4) en Keanu Williams (25*; 2×4) was die besoekers se beste kolwers, terwyl Curt Oliver (3/24) vir die tuisspan in die kol was met die bal en Peter Cyster (1/11 in vier boulbeurte) ’n ekonomiese boulvertoning gelewer het.
Op hul beurt het Stellenbosch (102/3) ligte werk van die teiken gemaak deur in die 18de boulbeurt oor die lyn te tree. Peter Minnis (46*; 1×4, 3×6) en Calum Moses (20; 1×4) het die meeste lopies vir Stellenbosch aangeteken. Rodwin September (1/4) en die aanvangsbouler Hilton Jephtas (0/6 in vier boulbeurte) het die beste boulsyfers vir Coronations opgedis.
Dit was ’n puik vertoning deur Stellenbosch, veral nadat hulle Saterdag in Robertson heeltemal deur die tuisspan oorrompel is. In dié wedstryd het die besoekers eerste gekolf en slegs 87/9 in 20 boulbeurte aangeteken. Net Minnis (18; 1×4, 2×6) en Brandon Layman (18; 1×4) het noemenswaardige tellings behaal.
Vir Robertson het Leolin Davids (3/13), Bjorn Cochrane (2/5) en Lefran Snyders (2/16) die kolflys heeltemal vernietig.
Die tuisspan (91/3) het slegs 14.1 boulbeurte benodig om die teiken te behaal om die wedstryd met sewe paaltjies te wen. Roland Evertson (28*; 3×4, 2×6) en Christo Lukas (27; 3×4, 1×6) het met gemak gekolf, terwyl Stellenbosch se Cyster (2/12) ’n vraag of twee aan die kolwers gerig het.
In die ander wedstryd in die Premier A-reeks het die tweede gekeurde Van der Stel-krieketklub Saterdag na die Pen Basson-ovaal gereis om teen die eerste gekeurde Wellington-krieketklub te staan te kom.
Die span van Stellenbosch het hul wenreeks gehandhaaf deur die tuisspan met sewe paaltjies te klop en die boonste plek op die punteleer ingeneem.
Wellington het eerste gekolf en die Van der Stel-boulers het die kolwers van die eerste bal af op hul tone gehou, en hulle het aan die einde van hul kolfbeurt 136/7 op die telbord gehad.
Garreth Wolmarans (60; 3×4, 5×6) was in goeie vorm, terwyl Divan Swanepoel (3/28) en Wynand Smit (2/16) die beste boulers was.
Met die Stellenbossers se kolfbeurt het Stefan Maree (43*; 3×4, 2×6), André Hanekom (32*; 3×4, 1×6) en Werner Brand (30; 3×4, 2×6) dinge beheer om hul span na 138/3 in 17.2 boulbeurte en ’n oorheersende sege te neem.
In die Kaapse Wynlande- suidelike liga (50 boulbeurte) het die Spes Bona-krieketklub ’n oorheersende 173-lopie-triomf oor die Klapmuts-krieketklub op die Cloetesville-sportveld behaal.
Spes Bona het eerste gekolf en 258/9 in 50 boulbeurte behaal danksy uitstekende kolfwerk deur Charl Christians (69), Keegan Muller (61) en Earl Ramat (32).
Die Klapmuts-boulers Lyle Leibrandt (3/33) en Waygon Lottering (3/53) het goeie syfers behaal.
Die tuisspan se boulers was vasberade om die besoekers se kolwers vinnig in die kleedkamer te kry en daarin geslaag, met Klapmuts wat ná 26.1 boulbeurte almal vir 85 lopies uit was.
Muller (4/28) en Tenzil September (2/16) was Spes Bona se beste boulers.
Die Excelsior-krieketklub het in sy wedstryd teen die Franschhoek-krieketklub ’n 10-paaltjie-sege behaal, terwyl die Raithby-krieketklub ook in hul wedstryd teen Stellenbosch III met drie paaltjies geseëvier het.
Die komende naweek (Saterdag 9 November) is al drie plaaslike spanne weer aan die beurt in die laaste rondomtalie- wedstryde in die T20-Gemeenskapsbekertoernooi.
Coronations ontvang Robertson by die Pniël-sportterrein, terwyl Van der Stel en Stellenbosch mekaar die stryd op die Bergsig-sportterrein aansê.
In die Kaapse Wynlande se suidelike liga speel Franschhoek gasheer vir Spes Bona, Excelsior reis na Raithby, Klapmuts kom teen Van der Stel III te staan en Stellenbosch III ontvang besoek van Wemmershoek.