Die Kaapse Wynlande- landelike sportvereniging het Saterdag 24 Augustus sy jaarlikse Vrouesportdag by die Kallie de Wet-sportterrein in Robertson aangebied.
Tydens die besonderse geleentheid het die onderskeie spanne van die Stellenbosch-, Breedevallei-, Witzenberg-, Langeberg- en Drakenstein-streke mekaar die stryd aangesê. Die spanne het in sokker, rugby en netbal meegeding.
“Sport op skoolvlak is iets wat die meeste leerders as alledaags beskou. Dit is egter so dat landelike skole se leerders nie altyd dieselfde voorregte as ander skole se kinders, wat bykans elke Saterdag teen mekaar meeding, geniet nie,” verduidelik Jerome Thomas, ’n bestuurslid van die Kaapse Wynlande- landelike sportvereniging.
Die sokkertoernooi is deur die span van Stellenbosch gewen, met die Breedevalleiers wat as naaswenners geëindig het.
Op die rugbyveld was die Stellenbossers weer te sterk vir hul teenstanders en hulle het die toernooi gewen, met Drakenstein en Langeberg onderskeidelik in die tweede en derde plek.
Op die netbalbaan het die junior en senior spanne van Stellenbosch ook in hul onderskeidelik afdelings geseëvier, met die spanne van die Breedevallei wat die tweede plek in albei afdelings behaal het.
Die junior span van Drakenstein het derde in hul afdeling geëindig, terwyl die senior span van Witzenberg derde in die senior toernooi geëindig het.
Thomas het sy dank uitspreek teenoor Lorenzo Arendse, die leier van die Kaapse Wynlande-sportraad en die provinsiale departement van sport en kultuur, vir hul ondersteuning, asook dr. Elna von Schlicht, die burgemeester van die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit, adv. Gesie van Deventer, die burgemeester van Stellenbosch, en Piet Carinus van die Stellenbosch-landbougenootskap.