’n 22-jarige man van Stellenbosch het Vrydag 7 Julie in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van moord nadat ’n geweer wat moontlik verbind word aan ’n moord wat in Junie vanjaar plaasgevind het, in sy besit gevind is.
“Nadat inligting van lede van die publiek ontvang is, het speurder AO Roy Jooste, sers. Kelvin Moses, sers. Charles Farao en drie lede van misdaadintelligensie dit opgevolg en dit het gelei tot die arrestasie van ’n 22-jarige verdagte op Woensdag 5 Julie. Die verdagte is van moord aangekla en hy het Vrydag in die Stellenbosch-landdroshof verskyn,” het sersant Jason Rhoda, polisiewoordvoerder gesê.
Volgens Rhoda is daar beslag gelê op ’n .22 jaggeweer asook vyf rondtes ammunisie. “Die geweer is positief verbind met ’n huisbraak en diefstal wat in April in Stellenbosch gebeur het waar drie vuurwapens gesteel is. Die geweer en rondtes is as bewysstukke ingehandig en die geweer sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit in vorige oortredings gebruik is.”
Daar is in hierdie stadium nie ’n direkte verbintenis met die twee voorvalle nie, maar vermoedens bestaan dat die jaggeweer, wat onder die vuurwapens wat gesteel is tydens die voorval in April, dalk die moordwapen in die moord in Junie kan wees.
Die waarnemende stasiebevelvoerder van die Stellenbosch-polisie, Kol Douglas Muller, het die polisielede geloof en sê dat vuurwapens ’n massiewe bydraer tot geweldsmisdade is. “Ons sal alles moontlik doen om hierdie gevaarlike wapens van die strate af te kry en te hou,” het hy bygevoeg.
Muller het die pogings van polisielede om die onwettige verspreiding van vuurwapens uit te roei, geloof en moedig lede aan om hoë sigbaarheid te handhaaf en om voort te gaan om ontslae te raak van hierdie misdaadbydraers in die gemeenskappe.
“As Stellenbosch-polisie wil ons die publiek bedank vir hul positiewe gesindheid en inligting wat gelei het tot hierdie arrestasie. Enigiemand met inligting oor hierdie saak en ander sake kan Stellenbosch-polisie by 021 809 5015 of die speurtak by 021 809 9140 bel,” sê Rhoda.