Stellenbossers was aangenaam verras om twee gespikkelde perde helder oordag in die middedorp te sien loop, min wetend dat die perde vroeër die oggend gesteel is.
Die twee wit gespikkelde Appaloosa-perde, Aztec en Voodoo, is Maandagoggend omstreeks 09:00, net ná oggendete, van die Maties-perdryklub ontvoer.
Die perde se mede-eienaar, Graham Walker, sê hulle het eers nie geweet die perde is weg nie.
“Die perdestalkneg, Bonisile Fata, het die perde vroeër die oggend gevoer. Hy was besig met sy roetine-take in die stalle toe die perde gesteel is.
“USBD-kampusveiligheid het eerste die perdedief met die perde gewaar en het Charlé Swart (nie verwant aan die mede-eienaar van die perde, prof. Sandra Swart, nie), klubbestuurder by Maties-perdryklub gekontak. Dit was hul waaksaamheid en vinnige reaksie wat van kritieke belang was in die opsporing van ons perde,” meen Walker.
Twee beamptes van USBD, Dylan Elias en Nadeem Abrahams, het die skakelbord gewaarsku en die dief en die twee perde bly volg tot hulle kon vasstel aan wie die perde behoort.
“Charlé het aangevoel iets skort en voordat sy bevestiging kon kry dat ons twee perde gesteel is, het sy in haar kar gespring om tot hul redding te kom,” voeg Walker by.
Charlé sê toe sy die verdagte met die twee perde sien stap, het sy haar kar in die middel van die pad geparkeer en uitgespring om hom te konfronteer.
“Die man het beweer dat dit sy perde was en het geweier om die een aan my te oorhandig. Die ander perd (Voodoo) was los en ek kon dit regkry om haar aan haar vliegmasker vas te hou. Enige perdekenner sou weet hierdie ou het die twee mees goedgemanierde perde vir hom geneem om so ver deur ’n besige Stellenbosch te kon kom,” sê Charlé.
Volgens haar was die munisipale wetstoepassers en USBD binne ’n kwessie van sekondes agter haar en het sy toe voortgegaan om die polisie te ontbied.
“Die man het steeds geweier om Aztec aan my oor te gee. Hy het in sy ander hand ’n brandblusser, wat hy ook van ons eiendom gesteel het, gehad. Ná ’n paar minute se onderhandeling het hy my toe toegelaat om die tou om die perd se nek te neem en die halter reg te pas vir die perd se veiligheid,” vertel Charlé.
Charlé sê die USBD het haar en die perde na die Van der Stel-sportterrein vergesel net om die perde in ’n veilige area en gras te kry om op te voed. Sy het toe die eienaars in kennis gestel en Walker en Fata het die perde deur die middedorp na die stalle toe teruggeneem.
Die verdagte is in hegtenis geneem en ’n klag van veediefstal is aanhangig gemaak.
“Ek het ’n saak by Stellenbosch-polisiekantoor aangegee; dankie aan kapt. Nicholas vir die begrip van die dringendheid en belangrikheid van hierdie saak,” sê Charlé.
Die mede-eienaar van die perde, prof. Sandra Swart, sê die dag kon in ’n tragedie ontaard het, maar sy is bly sy woon in ’n dorp waar mense omgee.
“Ons wil graag ons dankbaarheid uitspreek teenoor Charlé, Dylan en Nadeem van USBD-kampussekuriteit, asook almal wat belanggestel het in wat aangaan en gehelp het om ons twee geliefde spotties terug tuis te besorg. Ons het uit hierdie voorval geleer, en het ernstige stappe geneem om sekuriteit by die stalle op te skerp en boonop beoog ons om ’n klagte in te dien en die oortreder te laat skuldig bevind aan veediefstal,” sê Walker.