Die swaar reën en stormsterkte wind, wat die afgelope langnaweek oor groot dele van die Wes-Kaap verwoesting gesaai het, het nie die Stellenbosch-munisipale gebied ontwyk nie. Die gure weer het veral skade in gemeenskappe in Franschhoek, Jonkershoek, Mooiwater en Groendal aangerig.
Skade aan infrastruktuur in Khayamandi, Cloetesville, Idasvallei, Jamestown en Stellenbosch-Sentraal, veral rondom die Eersterivier, is ook aangemeld.
In Jonkershoek het rekord-reënval van 134 mm geval. Die hoogste reënval nog in hierdie gebied gemeet, was 84,7 mm reën in 1976.
“Sondag 24 September is ongeveer 40 oorstroming-verwante versoeke na ons munisipale beheerkamer deurgestuur. Dit sluit versoeke in om hulp wat direk aan raadslede gestuur is. Tussen Maandag (25 September) en Dinsdag (26 September) is ongeveer 100 versoeke aan ons infrastruktuur-departement gestuur. Hierdie versoeke het meestal te doen met onderbrekings in elektrisiteitstoevoer, onderbrekings in watertoevoer en versperde paaie en ingange weens ontwortelde bome,” sê Stuart Grobbelaar, munisipale woordvoerder.
Dele van Franschhoek en die Mooiwater-omgewing was vir ’n geruime tyd sonder elektrisiteit weens ’n substasie wat geheel en al deur vloedwater oorstroom is.
“Teen Sondagoggend is ’n munisipale gesamentlike bedryfsentrum (JOC) by ons beheerkamer geaktiveer, met verteenwoordigers van alle nood- en reddingsdienste, sowel as departemente wat verantwoordelik is vir basiese dienste. Die JOC is opgestel om hulp en reddingspogings te koördineer en met nooddienste op provinsiale en distriksvlak te korrespondeer.”
In Khayamandi het ’n sterk wind Saterdagaand (23 September) ’n groot denneboom in ’n munisipale eiendom op ’n klaskamer van die aangrensende Vision Afrika Primêre Skool omgewaai.
Die dak en fondasie van die klaskamer asook ’n projektor en elektroniese toerusting is erg beskadig.
Die gr. 3-leerders van die klas word nou tydelik in administratiewe ruimtes gehuisves, wat gewoonlik vir kantore, drukwerk en skoolbestuur gebruik word. Dit is die tweede keer binne enkele jare dat ’n reuse-boom vanuit die munisipale erf omwaai en skade aan die skool aanrig.
’n Huis in die informele deel van Khayamandi het ook skade gely toe ’n boom omgewaai het. Die boom se wortels het die symuur van die huis ineen gedruk.
Die Plankenburgrivier het ook sterk afgekom.
Adam Tas-rylaan en verskeie brûe was vir ’n ruk onbegaanbaar en minstens vyf groot bome op die oewers van die Plankenburgrivier is in die sterk stroom omgetrek.
Die reën het veral informele nedersettings aan die voet van die heuwel in Khayamandi beskadig toe water van onder die vloerruimtes deurgesypel het.
Grobbelaar sê die meeste paaie in en om die Stellenbosch-streek is teen Dinsdag (26 September) oopgestel vir verkeer. Die Franschhoekpas (R45) bly egter gesluit vir verkeer.
“Dele van Jonkershoek is steeds sonder krag. Ons spanne en Eskomspanne werk steeds daaraan – dag en nag. Ongelukkig is infrastruktuur erg beskadig en dele steeds onder water.”
Hy sê die munisipaliteit sal in die komende weke ’n kosteberaming oor die skade in die munisipale gebied voltooi.
“Die munisipaliteit konsentreer tans op rampverligting en fokus daarop om basiese dienste te herstel waar dit weens die oorstromings onderbreek is. Ons sal seker maak ons kom by elke versoek om hulp uit. Ons is uiters dankbaar dat daar geen sterftes aangemeld is nie. Ons innige simpatie gaan uit aan inwoners wat deur die oorstromings geraak is – mense wie se huise beskadig is of wat beserings opgedoen het. Ek wil ook graag my opregte dank uitspreek aan inwoners, besighede, organisasies en kerke wat hulle harte vir hul medemens oopgemaak het,” sê Gesie van Deventer, Stellenbosch-burgemeester.