Begunstigdes kan nou hul nuwe Sassa-kaarte ’n bietjie nader aan die huis laat vervang.Foto: www.actionsa.org.za


Plaaslike begunstigdes wat maandeliks ’n staatstoelae ontvang, het vandeesweek kans om hulp by verskeie punte naby hulle te ontvang om te verseker hulle is gereed vir die oorskakeling van die ou, goue Sassa-kaart na ’n nuwe kaart.

Die Stellenbosch-burgemeester, Jeremy Fasser, het in ’n verklaring bevestig hulp vir Stellenbossers sal by plaaslike munisipale persele beskikbaar wees. Die oorskakeling na nuwe kaarte is vir veral plaaslike begunstigdes ’n frustrasie aangesien hier nie ’n plaaslike kantoor van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) is nie. Eikestadnuus het onlangs berig van inwoners wat na Klapmuts moes reis om hul nuwe Postbank-kaarte te ontvang.

Die vervanging van kaarte volg nadat Sassa aangekondig het die huidige goue kaarte geld slegs tot die einde van Februarie vanjaar. Dié sperdatum is ná ’n noodkreet van begunstigdes en uit talle ander oorde na die einde van vandeesmaand verleng.

Die munisipaliteit het nou plan gemaak om plaaslike inwoners vinniger te help. “Om hierdie [vervanging van kaarte] te vergemaklik, het die munisipaliteit verskeie lokale reg oor Stellenbosch beskikbaar gestel om te verseker dat inwoners toegang tot Sassa-dienste nader aan die huis kan kry. Hierdie inisiatief is in reaksie op aansienlike vertragings wat Sassa ondervind, lang rye by sekere plekke en die las van langafstandreise, wat baie inwoners in die gesig gestaar het om hul nuwe kaarte te bekom,” het Fasser Maandag gesê.

Hy het bygevoeg hoewel Sassa se dienste deur die nasionale departement van maatskaplike ontwikkeling val, tree die munisipaliteit in om sy inwoners te help.

Begunstigdes kan van Dinsdag (4 Maart) hulp by die volgende lokale kry:. Cloetesville: Eikestadsaal, 4 Maart tussen 08:00 en 17:00. Idasvallei-biblioteek, 5 Maart tussen 08:00 en 17:00. Khayamandi-korridor, 7 Maart tussen 08:00 en 17:00. Elsenburg JJ Rhoode, 10 Maart tussen 08:00 en 17:00. Vlottenburg VGK kerksaal, 12 Maart 2025 tussen 08:00 en 17:00. Lanquedoc, Pniël, Kylemore – klubhuis, 13 Maart tussen 08:00 en 17:00. Franschhoek-stadsaal, 14 Maart tussen 08:00 en 17:00. Jamestown en Raithby – Methodiste kerk se saal, Raithby, 14 Maart tussen 08:00 en 17:00

You need to be Logged In to leave a comment.