Groot opwinding heers oor die eerste Afrikaanse Musiekindaba, wat hierdie week in Stellenbosch begin. Die ganse musiekbedryf kom van 30 November tot 3 Desember byeenkom om inligting te deel en die wonderwêreld van musiek te vier.
Die Musiekindaba bied nie net die geleentheid vir betrokkenes in die bedryf om bymekaar te kom nie – van die grootste name in Afrikaanse musiek is ook in verskeie unieke produksies gedurende die feesweek te sien.
Die musikant Schalk Joubert, wat die program saam met Melissa van der Spuy vir die Musiekspyskaart saamgestel het, vertel: “Daar is deurentyd wisselwerking tussen kunstenaars. Die meeste van ons is ou vriende en ons kom soms bymekaar om ’n bietjie saam te speel en met klanke te eksperimenteer. Hierdie sessies is gewoonlik nie vir die publiek toeganklik nie. Ons het die program juis so saamgestel sodat ons ’n nuwe dinamika op die verhoog aan gehore bekend kan stel. Ons meng genres en musikale agtergronde om diverse, opwindende en unieke Suid-Afrikaanse klanke met hierdie konsertreeks aan te bied.”
Karen Meiring, direkteur van Musiekindaba, sê dit is een van die opwindendste musiekprogramme waarvan sy self elke produksie wil sien. “Die unieke kombinasies van kunstenaars en genres van musiek is uitsonderlik. Dis nie iets wat dikwels gebeur nie en dit gaan ’n goeie en lekker musiek-ervaring oplewer.”
Bespreek jou kaartjies vir die MUSIEKSPYSKAART by Quicket.
Dean Balie: Toonsettings van die digters
Dean Balie en Collin Meyer
30 November 19:00 by die Fismer.
Dean Balie het vyf Fiëstas gewen vir Die poet, wie’s hy?, wat handel oor Adam Small se woordkuns. Toonsettings is ’n verdere verkenning van die genesingsmoontlikhede wat in digters se woorde opgesluit lê. Die digkuns staan altyd in diens van respek, liefde, hartseer, woede en die soeke na waarheid wat op geen ander manier vertel kan word nie.
Boeremusiek en mirrorballs
Rocco de Villiers
30 November 20:00 by die Endler.
Die pianis Rocco de Villiers en sy orkes toor met gewilde keurspele van Jim Muller, immergroen treffers van Nico Carstens soos “Die klokkiewals” en “Zambezi”, Hansie Roodt se “Warm snare” en die legendariese boeremusiek-vioolspeler oom Mynie Reyes. Boeremusiek word afgestof, blink gepoets en kry ’n nuwe huppel in die stap vir die 21ste eeu.
Rock & rumba
Arno Carstens, Hassan’adas en Sima Mashazi
30 November 20:00 by die Oude Libertas-amfiteater.
Die rocker Arno Carstens span kragte saam met die energieke Hassan’adas en Sima Mashazi. John Hassan lei ’n groep bobaas- Kaapse musikante in Hassan’adas, ’n groep wat spesialiseer in dansstyle soos die salsa, rumba, samba en Afrika-ritmes. Uitstekende sangstemme en aansteeklike verwerkings van Arno se Engelse én Afrikaanse musiek sal ’n onvergeetlike aand oplewer, wat ’n glimlag op jou gesig en ’n swaai in jou heupe sal sit.
The Notes of the Ancestral Spirits
Dizu Plaatjies en Ibuyambo
1 Desember 13:00 by die Fismer.
Voorvadergeeste is dikwels deur mediums gekontak deur drome en in toestande van beswyming. Hulle sal dan hierdeur vir mense inligting gee oor die oorsake van siektes, dood en ander probleme. Soms sou hulle medisyne of selfs toordery voorskryf. Ander kere sou die geeste van hul menslike protégés verwag om te sing en te dans en hulle te vermaak of dank te betoon. Hierdie vertoning het ten doel om die geeste van ons voorvaders te laat herleef en te eer.
Ramon Alexander: Ode aan goema
Ramon Alexander-sekstet met Nicolas Miso
1 en 2 Desember. 19:00 by die Fismer.
Ramon Alexander, ’n kunstenaar wat die sub-genre Cape jazz verteenwoordig, word beskou as een van die mees toonaangewende stemme in Cape jazz/goema. In sy aanbieding by die eerste Musiekindaba deel Ramon stories en nuwe verwerkings van oorspronklike komposisies, wat sy mentors en musikale invloede huldig, met spesiale fokus op die werke van Ibrahim Khalil Shihab.
Hoe ons voel
Amanda Strydom, Coenraad Rall en Frank Freeman
1 en 2 Desember. 20:00 by die Adam Small-teater.
Johannes Kerkorrel – 20 jaar later; nooit vergete. Amanda Strydom bring hulde aan haar vriend Ralph Rabie. Kom ervaar sy bekende liedjies in ’n nuwe lig; die ander kant van ’n ikoon wat ons te vroeg verloor het.
Hip-hop, bop & pop
Kurt Darren, Jack Parow, Early B, Loki Rothman en die Blake Hellaby-kwintet |1 Desember, 20:00, by die Oude Libertas-amfiteater.
Kom kyk hoe vloei die wêrelde van hip-hop, pop en jazz ineen. Kurt Darren is die kaptein van dansmusiek en as rymkletsers het Jack Parow en Early B geen bekendstelling nodig nie. Loki Rothman is ’n fenomeen op kitaar en deesdae ook ’n suksesvolle musiekvervaardiger. Blake Hellaby is ’n klavier-virtuoos en een van Kaapstad se beste jazzmusikante en -musiekvervaardigers. Saam vorm hierdie groep ’n wenkombinasie wat wys dat musiek alle grense oorkom.
Waar die hart is
Neil Sandilands, Andriëtte Norman, Louis Mhlanga, Sima Mashazi, Albert Frost, Nick Turner en Schalk Joubert
2 Desember, 20:00, by die Oude Libertas-amfiteater.
Musiek is ’n universele hartstaal, ook hier in Suid-Afrika met soveel verskillende en unieke style. “Home is where the heart is,” het Elvis gesing. In hierdie samekoms van uiteenlopende sangers en musikante wys hulle hoe ons oor grense heen saam musiek kan maak en dat ons harte op eie bodem gewortel is.
Kaapse jol
Emo Adams
3 Desember, 15:30, by die Oude Libertas-amfiteater.
Wat maak die Kaap so lekker? Emo Adams is ’n man wat weet! Emo is bekend vir sy buitengewone talent en lang loopbaan in musiek en musiekteater. In Kaapse jol bring hy van die moederstad se beste musikante, dansers en sangers byeen om te wys hoe ons hier kan dans en sing. Soos wat dit net in die Kaap gedoen kan word.
Altyd immer
Tarryn Lamb, Coenie de Villiers, Anton Goosen, Gian Groen, Robert Bolton
3 Desember, 20:00, by die Oude Libertas-teater. Ware talent en kuns is tydloos. Kom vier hierdie samekoms met van ons beste talent wat oor meer as vier dekades strek. Die immergroen liedjies van Coenie de Villiers, Anton Goosen, Tarryn Lamb, Gian Groen en nuwe talent soos Robert Bolton sal sorg vir ’n gesonde kombinasie van nostalgie oor gister, troos vir nou en nuwe hoop vir die toekoms.
’n Straatfees word Vrydag 2 Desember gehou waar die hart van Stellenbosch met musiek, spys en drank gevul gaan word. Tydens dié jolige safari gaan Musiekindaba-gangers verskeie kunstenaars in en om Kerkstraat sien optree, met restaurante in die omgewing wat na genoeg lafenis sal omsien.
Registreer vir musiekindaba-aanbiedinge
Kunstenaars en lede van die publiek kan nou by www.musiekindaba.co.za vir meer as 60 aanbiedinge registreer. Die program behels vier afdelings: . Forte-hoofsprekers. Presto-Presto-paneelgesprekke. G-sleutel-werksessies. Encore!-meesterklasse
Besoek www.musiekindaba.co.za vir die volledige program en om te registreer.
Die Musiekindaba, in samewerking met kykNET, Netwerk24, Huisgenoot, Die Burger, Beeld, Volksblad, Kuier, Toyota, EasyEquities, Distell, die Toyota US Woordfees, die Suidoosterfees, multi-media, Ontbytsake en Lift word van 30 November tot 3 Desember in Stellenbosch aangebied.