Die Stellenbosch-krieketklub (SKK) se eerste span is die afgelope naweek ná ’n oortuigende oorwinning oor die Wolseley-krieketklub na die premierliga van die Boland-krieketunie bevorder.
Hierdie uitslae is geen verrassing vir die Stellenbossers, wat die afgelope seisoen uitsonderlike goeie krieket gespeel het en die Promosieliga oorheers het nie.
Die SKK het tuisveldvoordeel geniet en die span van Wolseley (wat die loot gewen en besluit het om eerste te kolf) vir ’n skamele 85 lopies uitgeboul. Dit het die Stellenbosch-kolwers in ’n meer geruste posisie geplaas.
Dit was veral uitstekende boulwerk deur die aanvangsbouler, Laughton Barends (4-15-7.1-2), wat die tuisspan op die voorvoet geplaas het toe hy die Wolseley-aanvangskolwers vroeg terug paviljoen toe gestuur het. Daarna het die besoekers se paaltjies met reëlmaat geval.
Barends is goed ondersteun deur Likhona Gwala (2-17-6-0) en Timothy Cornelissen (2-26-6-0).
’n Uitstekende kolfbeurt deur die jongeling Heinar Februarie (52) het nog sout in die besoekers se wonde gevryf en die Stellenbossers ’n gemaklike oorwinning besorg.
Die SKK se kaptein, Peter Cyster, sê hy is trots op sy span se vertoning – nie net in hierdie wedstryd nie, maar deur die hele seisoen. Dit was ’n baie belangrike wedstryd vir ons en ons het geweet wat op die spel was. Ons het geweet – as ons hierdie wedstryd wen, sal ons bevorder word. Ons het redelike selfvertroue gehad, maar dit was nie vanselfsprekend nie. Ons het besef ons sal hard moet werk en goeie krieket moet speel.”
Cyster sê hul beplanning en voorbereiding vir die wedstryd het ’n groot invloed op die wedstryd self gehad. “Die ouens het hul koppe neergesit en die plan deurgevoer, en daarom kon ons sukses behaal. Die boulers en kolwers het almal hul kant gebring en ’n goeie spanpoging het aan die einde van die dag die knoop vir ons deurgehak.”
Brian Minnis, die SKK-voorsitter, sê hy is trots op die span se spelpeil die afgelope seisoen en is bly dat hulle na die Premierliga bevorder is. “Die manne het deur die seisoen hard gewerk en pluk nou die vrugte van ’n lang seisoen. Hulle het gedoen wat gedoen moes word om bevorder te word.”
Minnis skryf die span se sukses toe aan goeie administrasie en beplanning. “Ons as klub het vroeg met beplanning begin, en almal het hul kant gebring. Die afrigters en komitees het tot die sukses wat ons nou geniet, bygedra. Dit het die spelers in staat gestel om net op die spel te fokus en hulle nie oor onnodige dinge te bekommer nie. Die span se sukses is ’n klubpoging.
“Ons het geweet dat ons, nadat ons gerelegeer is, so gou as moontlik terug in die Premierliga moes kom. Dit het fyn beplanning en toewyding van almal geverg. Dit is belangrik vir ons dat ons spelers in ’n meer uitdagende liga moet speel sodat hulle tot hul volle potensiaal getoets kan word en speel,” het Minnis bygevoeg.
Die SKK speel eerskomende naweek weg teen die Bergrivier-krieketklub. Indien die Stellenbossers die wedstryd wen, sal hulle outomaties die ligakampioen wees.