Die Stellenbosch-polisie sê slagoffers van diefstal uit motorvoertuie wat te lank wag om die misdaad aan te meld stuit die ondersoek en suksesvolle vervolging.
Die polisie kla ook dat selfs na hul talle versoeke motoriste steeds waardevolle besittings oop en bloot in die voertuie los terwyl hulle in openbare strate of parkeerareas parkeer.
“Dit het ’n uiters groot probleem geword omdat dit potensiële misdadigers uitnooi om by voertuie in te breek. Waardevolle items soos skootrekenaars, kameras, selfone en sakke met klere word op die sitplekke van die voertuie gelos waar dit vir almal sigbaar is om te sien. Die polisie doen ’n beroep op die publiek om asseblief hul samewerking in hierdie saak te gee en te help om Stellenbosch veiliger te maak,” het polisiewoordvoerder, kaptein Nathalie Martin, gesê.
“Ons vind ook dat slagoffers van diefstal uit motorvoertuie ’n tydjie wag voordat hulle die diefstal by die polisie aanmeld. Wanneer jy ’n slagoffer van diefstal uit ’n motorvoertuig word, meld asseblief die voorval so gou moontlik aan. Die LCRC-eenheid (plaaslike kriminele rekordsentrums) van die polisie sal van hierdie voorval ingelig word om die nodige vingerafdrukke op die voertuig te neem. Slagoffers moet nie die voertuig herstel voordat die LCRC-eenheid aan hul klagte aandag gegee het nie,” voeg sy by.
In ’n onlangse voorval is ’n skootrekenaar, op Donderdag 2 Maart tussen 19:30 en 22:59, uit ’n motor in Andringastraat gesteel.
Volgens Martin het die klaagster haar voertuig by die parkeerterrein by Eikestad-winkelsentrum geparkeer en alle deure was gesluit. “Toe sy terugkom, het sy opgemerk dat die voorste passasiersruit gebreek is en haar skootrekenaarsak met haar skootrekenaar gesteel is.”
Bel die Stellenbosch-polisie by 021 809 5012/15 om enige kriminele aktiwiteite of voorvalle aan te meld.