Joha van Dyk het as gr. 2-leerder agter ’n rekenaar, wat deur haar broer herbou is, ingeskuif, begin skryf en nooit opgehou nie. Sy het toe reeds gedroom om ’n boek te skryf – ’n droom wat sy in 2020 met Branderjaer, die eerste boek in die Branderjaer-sage, verwesenlik het.
In September het die Stellenbosser die derde boek in die reeks, Kan Nie Dood, bekend gestel. Dit volg kort op die hakke van Vuurvreter, wat in 2022 gepubliseer is.
Dié 26-jarige jeugskrywer is opgewonde om haar nuwe werk met lesers te deel, veral omdat die temas van die Branderjaer-sage relevant vir vandag se samelewing is. “Ek kyk na Suid-Afrikaanse bendekultuur, rape culture, geslagsgeweld, geestesgesondheid (onder meer posttraumatiese stresversteuring en angs) en seksualiteit, om ’n paar te noem,” vertel Van Dyk.
“Ek dink persoonlik ook die karakters is baie relatable en sorg dat mense wil aanhou lees. Hulle is vir my reeds so werklik en hul struggles; hul trials en tribulations raak vir my soveel soos dit hulle raak. Hulle het uiteenlopende, unieke persoonlikhede en is so multi-faceted, ek dink elke leser kan iets van hulself in elk van die karakters vind. Jy wil weet wat gaan met hulle gebeur. Jy wil weet of hulle hierdie sal kan uit-figure en waarnatoe hulle op pad is.”
Die idee vir die Branderjaer-sage is met die skrywer, Joha van Dyk, se 21ste verjaardag gebore. Sy en haar gesin het die rooibus-toer in Kaapstad gedoen toe sy die woord “branderjaer” gehoor en in haar notaboek neergeskryf het.
“ ’n Paar maande later het ek weer die woord in my notaboek raakgesien,” vertel Van Dyk. “Ek het ’n gevoel gehad ek moes iets daarmee doen en het toe in ’n blokkiesraaisel-woordeboek rondgeblaai vir prompts, enigiets om net vir my idees te gee of wat my in ’n rigting kan stuur. Ek kom toe op die woord ‘ekstremis’ af en langs dit was die woorde ‘kanniedood’, ‘vuurvreter’, ‘stokebrand’, ‘bittereinder’ en ‘klipvreter’. Ek besef toe?.?.?. hier is my karakters. Van daar af het ek deur gesprekke, flieks en net die verloop van lewe die res van die verhaal ontwikkel.”
Branderjaer, die eerste boek, stel die leser voor aan die Jaers, meeste van die karakters, Stormbaai, die politiek en die groot antagoniste.
Vuurvreter, die tweede boek, stel die leser voor aan die mitologie en die mistieke elemente rondom Stormbaai, asook Chancer Bay. “Jy kan effe dieper in die politiek in delf en hopelik tot die afleiding kom dat daar nóg kragtiger figure in die agtergrond is wat nog nie by Stormbaai se onderwêreld betrokke is nie.”
Vir Van Dyk is die derde boek in die sage, Kanniedood, die letterlike en figuurlike vonk van die rewolusie, die rebellie van die Jaers. “Die Branderjaers se torment binne Breekwater, binne die Arena, het begin met Kalla Palmer se aanval en oorlewing. Kalla is moeg van bloot oorleef, veral wanneer haar pa – die bendeleier van die Urchins – terugkeer na Breekwater en skynbaar ’n bende-oorlog wil begin.
“Natuurlik word die Branderjaers hierby ingesleep – alhoewel ingesleep dalk verkeerd is. Dis hulle instink om te help, te ondersteun. Hulle is broers, familie. En sommige van hulle is baie ywerig om brand te stook.
Van Dyk is in Kleinzee, ’n klein dorp in Namakwaland, gebore en het op die familieplaas Steenvlei, net buite Kleinzee, grootgeword. As plaaskind het sy van jongs af ’n goeie verbeelding gehad en sy het ’n liefde vir lees, diere en die natuur gekweek en gekoester.
“Ons het ’n gastehuis, Die Houthoop Gastehuis, op die plaas. Ek het dus van jongs af met baie interessante mense te doen gehad,” vertel Van Dyk. “Blykbaar het ek vir die gaste informele ‘toere’ van die plaas gegee en aan hulle allerhande stories vertel van die boerdery en gastehuis.”
Sy het in 2015 aan die Hoërskool Stellenbosch gematrikuleer en daarna haar studies in BA Geesteswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch voortgesit. Daarna het sy ’n TEFL-kursus (die onderrig van Engels vir mense wat dit nie as moedertaal gebruik nie) deeltyds voltooi en haar honneursgraad in Engels cum laude geslaag.
In 2020 het Van Dyk haar meestersgraad in Engels aangedurf en dit ook cum laude geslaag.
“In 2021 het ek my PhD-voorstel geskryf en in 2022 het ek die eerste jaar van my doktorsgraad aangedurf. Ek is tans besig met my PhD in Engels. Dit handel oor Namakwalandse storievertelling en behels dat ek stories van Namakwalandse storievertellers versamel deur onderhoude met hulle te voer,” sê Van Dyk. “Meer spesifiek is ek op soek na verhale wat juis oor Kleinzee handel. Ek beskou dit as ’n geleentheid om terug te ploeg in my grootwordplek.”
Haar liefde vir skryf en stories het vroeg al begin, en sy het as gr. 2-leerder haar eerste poging gelewer. “Needless to say, dit was nie great nie, maar ek was nog altyd lief vir lees en vir stories vertel. Namakwaland het ’n groot storievertelkultuur, so ek het grootgeword met stories wat om my en aan my vertel word. My ouers het ook moeite gedoen om vir my te lees en ’n liefde vir boeke by my te kweek.”
Van Dyk beskryf haarself as skrywer as “nuuskierig, paraat en entoesiasties”. Sy skryf meestal fiksie vir jeugdiges, maar stel ook belang in digkuns en fiksie vir volwassenes; sy het ook ’n liefde vir fantasie en “life writing”.
In haar boek Kan Nie Dood keur Check Palmer, die afwesige leier van die Urchins, terug na Breekwater en is hy gereed om die Rotte se mag te knak. “Beide Kalla en Ben is onder druk van hul pa om betrokke te raak by die Urchins se operasie, maar waar Ben dit probeer vermy, probeer Kalla kop eerste induik – die probleem is dat haar pa haar skynbaar nie ernstig opneem nie,” vertel Van Dyk oor haar nuutste werk. “Sy besluit om sake in haar eie hande te neem en begin die Rotte se dwelm- en pornografie-caches te target . . . met vlamme.”
Van Dyk het einde verlede jaar aan die boek begin werk en was teen Februarie vanjaar kant en klaar. Die titel was een van die makliker besluite wat sy moes neem. “Ek het besluit dat elk van die Branderjaers se noemname hul titels sou wees. Kan Nie Dood was die natuurlike volgende stap in die verloop van die groter verhaal van die Branderjaers,” verduidelik sy.
Sy moedig jongmense aan om die boek te lees, want “dis ’n goeie manier om jouself bloot te stel aan ander wêrelde en perspektiewe”.
“Die reeks is aantreklik juis omdat jy boek vir boek die karakters beter leer ken, saam met hulle groei en grootwoord, saam met hulle juig en huil en baklei deur hul stryd in Stormbaai,” sê Van Dyk.
Watter raad het sy vir jong, aspirant-skrywers?
“Skryf. As ’n jong skrywer het ek opgelet ek praat graag daaroor dat ek ’n skrywer wil wees en in ’n stadium moes ek besef, oukei wel, listen, jy moet nou skryf. Jy moet nou actually iets skryf.
“Skryf alles neer; hierdie reeks het ontstaan uit ’n woord wat ek gehoor het op ’n rooibus-toer, so as enigiets vir jou interessant klink of jou aandag trek, maak ’n nota daarvan. Dalk is dit eendag presies wat jy nodig het.
“Moenie bang wees om jou manuskrip in te stuur nie – doen goeie navorsing oor by wie jy wil uitgee. Neem hul kommentaar in ag. Edit. Moenie bang wees vir kommentaar en redigering nie. Dis belangrik en dikwels weet hulle meer of beter – die meeste van die tyd. Stick to your guns when it’s necessary, maar weet ook wanneer om te buig. Dit sal ’n gut feeling wees.”
En wat is volgende vir Joha van Dyk?
“Ek is seker ek sal nog in die toekoms aanhou studeer, maar op die huidige oomblik wil ek net my navorsing klaarmaak en skryf-skryf-skryf!”. Kan Nie Dood word deur Human & Rousseau uitgegee en is by die meeste boekwinkels en aanlyn beskikbaar.