Talle atlete van die Stellenbosch-atletiekklub was onder die 20 972 atlete wat Sondag 8 Junie in Pietermaritzburg weggespring het om aan die Comrades-marathon deel te neem. Onder die Stellenbossers wat vanjaar die 89,9 km-wedloop aangepak het, was Jacques Fourie, wat die uitdaging die negende keer aangepak het, en Francois Kotze, wat sy 11de Comrades kafgedraf het. Alexis van Zyl het op haar beurt haar vyfde Comrades aangepak. Atlete wat vir die tweede keer deelgeneem het, was Junita Rose, Yolandie Botma, Jack Matmiba, Ruan Botma, Gert Mans, Kobus Uys, Robyn Berghoff en Candice Vermeulen. Plaaslike atlete wat die eerste keer van die wegspringpunt tot in Durban gehardloop het, was Johlene Bartsch en Stephanie Radyn. Hoewel dié twee effens huiwerig was oor of hul volgende jaar weer sal deelneem, blyk dit tog hulle beoog om Stellenbosch in 2026 weer te verteenwoordig. Foto: Yaël Malgas
Hoewel hy nie ‘n Stellenbosser is nie, het die Amerikaner Patrick Chichester (links) ook vanjaar onder die Stellenbosch-atletiekklub se vaandel gehardloop. Chichester het vir die eerste semester van die akademiese jaar aan die Universiteit Stellenbosh studeer en tydelik by die klub aangesluit. Hy moes ongelukkig verlede jaar al vir die Twee Oseane- en Comrades-marathon as buitelander ingeskryf het en verskyn daarom nie op die klub se amptelike uitslae nie. Hoewel hy intussen huis toe is, is sy mede-atlete steeds in hul noppies met sy prestasie.

You need to be Logged In to leave a comment.