Die spanne wat in 2025 in die Superliga-kompetisies van die Westelike Provinsie-rugbyunie gaan meeding, is vasgemaak, maar die streekspanne sal eers later hoor waar hulle gaan inpas.
Gevestigde spanne in die onderskeie ligas sal weer teen hul ou aartsvyande te staan kom met twee of meer nuwelinge wat hul staal in die ligas gaan wys.
In Superliga A sal die vertonings van Van der Stel-Evergreens (VDE) en UWK met valkoë dopgehou word nadat albei uit Superliga B gepromoveer het. Die twee spanne wat vir hulle moes plek maak, is Noordelikes-Technikon (NTK) en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT), wat in Superliga B in aksie sal wees.
VDE het vanjaar vriend en vyand verras deur nie net met hul aartsvyand Hamediehs in die kwarteindstryd af te reken nie, maar het Kraaifontein in die halfeindstryd met 36-34 geklop – die tweede keer in twee weke.
UWK was die hele jaar die voorloper op die punteleer, hoewel hulle in ’n stadium Woensdae en Saterdae wedstryde moes speel om hul ligaverpligtinge na te kom. Dit was net ’n geval van wie van Kraaifontein of VDE by die studente in Superliga A gaan aansluit.
Aan die een kant het die studente VDE ’n rugbyles in die eindstryd geleer en dit was net ’n voorsmakie van wat volgende jaar op VDE gaan wag.
Aan die ander kant is daar min spanne in WP-kompetisies wat binne sewe jaar van die streekskompetisie tot in Superliga A kon vorder – veral as in ag geneem word dat VDE eers in 2017 gestig is. Dis net St. George’s van Strand wat dit kon regkry nadat hulle onder leiding van wyle Wilbur Kraak tot Superliga A bevorder is en steeds ’n span is om in die liga mee rekening te hou.
Maar soos die gesegde lui – die span wat dit die graagste wil hê en alles in die stryd werp om daardie doelwit te bekom, sal die vrugte daarvan pluk.
In Superliga B moes Strand, Langa en All Saints plek maak vir Macassar, Primrose en Goodwood. Strand het die hele jaar aan die agterste speen gesuig en net wanneer jy dink hulle is weer op koers, val hulle vas. Langa en All Saints het ook dieselfde paadjie geloop en tweede gekom in wedstryde wat hulle moes gewen het.
In Superliga C is Delft, Violets en Caledonian Roses uit die streekspanne bevorder. Hulle vervang vir Blue Jets, Masiphumelele en Paarl, wat na die streekspanne gerelegeer is.
Macassar het die afgelope drie jaar gesukkel om uit die “begrafplaasliga”, soos Superliga C in die volksmond bekend staan, te kom en het elke keer by die laaste hekkie gestruikel. Die Helderbergers moet onthou een van die spanne teen wie hy gaan speel, Franschhoek, sukkel nou al vier jaar om uit Superliga B te kom en dalk is 2025 Franschhoek se jaar.
Die streekspanne word in drie groepe verdeel, naamlik die Noordelike-, Suidelike- en Stadsliga, maar watter spanne waar speel, moet nog bepaal word.
- Superliga A: Hamiltons, Durbell, Villagers, Valsbaai, Helderberg, St. George’s, Unimil, Maties, Brackenfell, Kuilsrivier, Ikeys, SK Walmers, Tygerberg, UWK en VDE.
- Superliga B: Kylemore, Kraaifontein, Franschhoek, Belhar, Bellville, Hamlets, Collegians, Vineyards, Hands & Heart, Hamediehs, Macassar, Primrose, Goodwood, NTK en KSUT.
- Superliga C: Atlantis, Gardens, Busy Bees, Eersterivier, Pniël Villagers, Rangers, Scottsdene-Central, Delft, Violets, Caledonian Roses, Strand, Langa, All Saints, Strand United en Young Peoples.