Liefhebbers van Stellenbosch-wyne oor die wêreld heen kan nou die beste van hierdie gevierde wynstreek koop – alles op een plek, aanlyn en teen proelokaal-pryse.

Die Simon-wynemporium, in samewerking met Stellenbosch Wynroetes, is eksklusief toegewy aan die etikette van Wyn van Oorsprong Stellenbosch, wat dit die eerste in sy soort in Suid-Afrika maak.

Die aanlyn wynemporium het tans 145 topwyne van nie minder nie as 73 Stellenbosch Wynroetes-lede-landgoedere. ’n Kundige komitee het die portefeulje noukeurig saamgestel om die gros van die streek se wyne en kultivars ten beste te vertoon.

Wynliefhebbers wat aanlyn bestel, sal dieselfde pryse as by die landgoedere se proelokale betaal en aflewering geskied direk van die wynplase af.

Die wyne wat te koop aangebied word, verteenwoordig al vyf sub-roetes van die Stellenbosch Wynlande: Groter Simonsberg, Stellenbosch-berg, Stellenbosch-vallei, Helderberg en Bottelary-heuwels. Noukeurige proenotas is vir elke wyn saamgestel, asook inligting oor die wynlandgoedere en onderskeie kultivars én hulp met kos-pasmaats.

Die lys sluit onder meer die kultivars sauvignon blanc, chenin blanc, chardonnay, cabernet sauvignon, pinotage en shiraz asook rooi versnitte in. Dit bevat ook die “ou wingerd”-wyne wat deur die Old Vine Project verteenwoordig word, sowel as ’n versameling van die streek se ikoniese wyne.

Vir die wynkenners wat ’n spesifieke kultivar verkies, maar verskillende wynlandgoedere se aanbiedinge wil vergelyk, het die paneel ’n boks met ses wyne van die sub-roetes van die Stellenbosse wynlande saamgestel, wat in drie kategorieë beskikbaar is: ontspanne vir elke dag se genot, premium en waarlik uitstaande. Kopers kan ook hul eie ses-bottel-boks uit die Simon-wynemporium-portefeulje saamstel, wat uit ’n spesifieke kultivar uit die vyf sub-roetes óf ’n mengsel van verskillende wynlandgoedere bestaan –teen geen ekstra koste nie.

Daar is ook wyne op spesiale aanbieding teen pryse wat spesiaal tussen die Simon-wynemporium-span en die onderskeie wynmakers beding is. Hierdie wyne is vir ’n beperkte tyd teen selfs laer pryse as by die proelokaal beskikbaar.

Buiten die uitgebreide Simon-wynemporium-portefeulje is daar ook skaars, ouer wyne op die lys, wat meestal onbekombaar is. Hierdie uitmuntende wyne kom gewoonlik direk van die wynmakers se kelders en is eksklusief aan Simon-wynemporium-kliënte beskikbaar.

Plaaslike wynliefhebbers wat van die wonderlike wyne wat te koop is, wil proe, kan die “huis” van die Simon-wynemporium in die historiese De Warenmarkt in Stellenbosch besoek. Proeë is volgens kultivars en temas gegroepeer en sommeliers is byderhand om inligting te gee of digitale proenotas te verskaf.

Boonop sal proeë in die wynmakers se eie kelders aangebied word, en De Warenmarkt sal voortgaan om die kos-en-wyn-pasmaats aan te bied, wat ongelooflik gewild onder kos-en-wynliefhebbers geword het. Gaste wat wyn by hierdie geleenthede wil koop, sal gehelp word om hul bestellings aanlyn te plaas – steeds teen kelderdeurpryse.

Die emporium se ligging, op die hoek van Van Ryneveld- en Van Riebeeckstraat in Stellenbosch, is ook belangrik. Die Simon in die naam is ’n ode aan die dorp se stigter, Simon van der Stel, terwyl die 18de eeuse gebou wat sy tuiste is, op die kruising van Stellenbosch se polsende kulturele distrik lê. De Warenmarkt is al geruime tyd die dorp se gunstelingeetplek en oesterkroeg en nou is dit ook die vertoonvenster vir wyne van die Stellenbosch-streek.

Die program met proeë en ander geleenthede by die Simon-wynemporium by De Warenmarkt sal aanlyn by www.simonwineemporium.co.za en op die Stellenbosch Wynroetes se Facebook-blad geadverteer word.

Daniël Kriel, mede-eienaar van De Warenmarkt, sê: “Dit verskaf ons groot plesier om die nuwe enig-in-sy-soort Simon-wynemporium-ervaring beide aanlyn en by De Warenmarkt aan wynliefhebbers oor die wêreld heen te bring. Of jy nou in Kaapstad of Kyoto woon, jy het nou toegang tot die beste Stellenbosch-wyne – alles op een plek, net een kliek weg.”

Die Stellenbosch-gebied pronk met ’n wynmaak-tradisie wat tot die middel van die 17de eeu terugdateer en De Warenmarkt het sedert sy opening in 2015 Stellenbosse wyn van oorsprong ondersteun. “Ons was nog altyd trots dat ons die eerste Suid-Afrikaanse eetplek was wat ’n ‘eksklusief Stellenbosch’-wynlys gehad het en wat net op die beste bekroonde landgoedere om die dorp fokus.

“Die Simon-wynemporium is ’n natuurlike uitvloeisel van ons jare lange verbintenis met Stellenbosch Wynroetes,” sê Daniël.

Mike Ratcliffe, voorsitter van Stellenbosch Wynroetes, die streek se amptelike bemarkingsliggaam, wat Suid-Afrika se eerste wynroete verteenwoordig, sê Stellenbosch het ’n 50 jaar-geskiedenis waar plaaslike wyne aan gevestigde wyndrinkers én potensiële nuwelinge voorgestel word.

“Ons is besonder trots op hierdie nuutste mylpaal. Die Simon-wynemporium sit nie net hierdie tradisie voort nie, maar ook die tradisie van samewerking, wat nog altyd deel van die sukses van Stellenbosch-wyne was,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.