Die Van der Stel-krieketklub se eerste span het die afgelope naweek sy buurman, die Stellenbosch-krieketklub, se eerste span met sewe paaltjies in die plaaslike derby van die premierliga se 50-beurt-wedstryd van Boland-krieket geklop.
Van der Stel het die loot op die Berghzight-sportterrein gewen en Stellenbosch ingestuur om te kolf.
Van der Stel se boulers het behoorlik onder die Stellenbossers ingeklim en in die eerste uur vyf paaltjies laat kantel. Mohamed Sidat (3-38-0-8), Bernard Snyman (2-8-0-4) en Juan Burger (2-15-0-6.3) het goed met die bal vertoon en die tuisspan vir 115 almal uit terug kleedkamer toe gestuur.
Timothy Cornellisen (15), Enslin Johannes (13) en Donovan Hendrikse (12) was die voorste lopiemakers vir Stellenbosch.
Van der Stel het die opgestelde teiken met sewe paaltjies staande oortref danksy ’n goeie kolfvertoning deur Byron Haycock (21*) en Rickus Brand (12) nadat die aanvangskolwers teen die boulaanval gesukkel het.
Curt Olivier (2-14-0-4) en Timothy Cornellisen (1-22-0-7) het goed vertoon met die bal, maar kon nie die teiken suksesvol verdedig nie.
In die tweedespanwedstryd by die Idasvallei-sportterrein het Van der Stel (285/6) Stellenbosch (182/7) met 96 lopies in hul 50-beurt-wedstryd geklop.