Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer inwoners van Stellenbosch bewus word van spatsels kleur en unieke kunswerke wat stilweg in en rondom die dorp verskyn.

’n Kleurvolle blomstoel van metaal, wat voetgangers uitnooi om te kom sit, ’n reusagtige haas wat skilder en dansende figure wat motoriste by die oprit van die Eikestad Mall laat glimlag, begroet inwoners en besoekers.

Braam van der Westhuisen

Braam van der Westhuisen
Ayanda Miti

Ayanda Miti
Katherine Stoms

Katherine Stoms
Iman Samaai

Iman Samaai
Ayanda Miti

Ayanda Miti
Arno Lategan

Arno Lategan
Gretchen Volkwyn

Gretchen Volkwyn

Dit is natuurlik alles deel van die PJ Olivier-kunssentrum se jaarlikse straatkuns-kompetisie vir graad 11-leerders waarin hulle kuns skep wat interaktief is met die omgewing.

Die kompetisie word sedert verlede jaar ook aan ’n staproete deur die dorp gekoppel. Dit bied nie net ontluikende jong kunstenaars die geleentheid om lewe aan hul werk te gee nie, maar betrek ook die dorpenaars en stel toeriste stap-stap aan die pragtige dorp bekend.

Vanjaar se staproete staan bekend as #PJOkunsspore23/ #PJOart_tracks23 en begin by die PJ Olivier-kunssentrum in Blomstraat, waarna dit deur die hele dorp kronkel. Die 12 beste kunswerke sal op spesifieke plekke tydens die staproete besigtig kan word en ’n pragtige kaart beskikbaar is beskikbaar, wat al die kunswerke op die roete aandui.

Die staproete word op 14 Oktober om 10:00 by die PJ Olivier-kunssentrum geopen en almal wat belangstel, word genooi om te kom saamstap. Die 12 kunstenaars sal ook teenwoordig wees om oor hul werk te gesels.

Volgens Isabel Verwey, die uitvoerende direkteur van Proud Partners (een van die projek se borge) is hulle opgewonde oor die uitwerking wat die kompetisie op die dorp sowel as die leerders het.

“Vandat ons in 2015 met die kompetisie begin het, het dit elke jaar net gegroei, en die reaksie daarop is oorweldigend positief. Nie net bied dit ontluikende jong kunstenaars die geleentheid om aan hul werk lewe te gee nie, maar dit bied ook interessante besprekingspunte onder dorpenaars en dit gee toeriste ’n unieke blik op die lewendige dorp en sy gemeenskap.”

Die kompetisie is deel van die leerplan van die PJ Olivier-kunssentrum, wat vanjaar sy 70ste bestaansjaar vier, en die finaliste en wenners ontvang ook geldpryse. ’n Spesiale prys vir die kunswerk wat die meeste “likes” op pjokunsspore23, die PJ Olivier-kunssentrum se Instagram-blad kry, is ook op die spel.

Inwoners en besoekers aan Stellenbosch kan daarna uitsien om die unieke straatkuns nog tot diep in 2024 te geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.