Dis die verhaal van ’n romantiese Afrikaanse popster van die Kaap met die naam Jaakie, en sy droom wat uiteindelik waar geword het.
Dis ’n reis wat oor jare strek, maar alles het vir Jaakie op Donderdag 11 April begin regkom. Op daardie dag het sy vriend, Francois van Straten, hom gevra om ’n paar foto’s en videos by Sunset Studios te kom neem. Francois was besig om saam met die musiekvervaardiger Fred den Hartog aan musiek te werk.
Wat die Stellenbosch-student nie geweet het nie, was dat hierdie dag sy lewe onherroeplik sou verander.
Terwyl hy daar was, het Jaakie begin rondspeel met ’n paar lirieke en verse, en toe Fred voorstel dat hulle iets daarmee doen, het Jaakie dadelik agter die mikrofoon ingeskuif en sommer ge-freestyle.
Dit was in daardie oomblik dat Jaakie as kunstenaar gebore is. Hy kon dit voel – die energie, die vreugde, die klik van al die stukkies wat net reg val. Die naam “Jaakie” was nie net ’n alias nie; dit was ’n manifestasie van jare se passie en strewe na ’n droom.
’n Paar maande later het Fred voorgestel hy moet daaraan dink om ’n paar Afrikaanse liedjies te skryf en op te neem. Die vrystelling van sy debuutsnit “Hulle” met sy held Jack Parow as gaskunstenaar, is uit hierdie visie gebore.
Die lirieke van “Hulle” is deur die bekende slagspreuk van Dricus de Plessis “hulle weet nie wat ons weet nie” geïnspireer. Die frase is ’n viering van Suid-Afrikaners se unieke uitkyk op die lewe.
“Ons het ’n eiesoortige sin vir humor. Ek wou op my manier ’n gevoel van samehorigheid in die liedjie vasvang. Dit gaan oor die idee dat ons almal ten spyte van ons verskille as ’n nasie een is. Ons is Suid-Afrikaners,” vertel Jaakie.
Hy en Jack Parow het elk hul eie lirieke geskryf en opgeneem. Dit was nommerpas!
Vir Jaakie was die hele proses om met Jack Parow saam te werk, iets wat hy beskryf as “ ’n vergrootglas-ervaring”. “Die proses was net ongelooflik,” deel hy.
“Dit het my kuns en inspirasie na ’n hoër vlak geneem. Ek kan steeds nie glo dat ek ’n liedjie gemaak het met die grootste Afrikaanse rapper tot nog toe nie.”
Jack Parow sê hy het dadelik geweet hy wil deel wees van die skepping van die enkelsnit. “Jaakie het ’n amazing vibe. Sy energie en hoe hy dinge aanpak, is net so cool. Ek hou van mense wat nie op hulle laat wag nie; wat self inspring en dinge aan die rol kry,” sê die gewilde rymkletser.
“Jaakie is só ’n bra. Ek het baie tyd vir hom en ek dink ons gaan nog lekker saam jol en moeilikheid maak in die toekoms.”
Die musiekvideo is deur Perissos, ’n kreatiewe agentskap wat Jaakie saam met David van Heerden, Karlo Viljoen, Daniel Jooste en Josh Brand gestig het, gemaak. Jaakie se tweede enkelsnit, “Kolwyntjie”, word binnekort uitgereik.
Besoek gerus www.jaakie.co.za vir nog inligting.