AfriForum se Stellenbosch-tak het sy jaarvergadering op Donderdag 29 Februarie gehou en terugvoer aan die lede gegee.
Die gasspreker, Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, het weer die vlam van selfdoen met positiewe woorde aangeblaas.
Theo Turner, wat in die tak- en buurtwagbestuur dien, het op sy beurt terugvoer gegee oor die plaaslike buurtwag se suksesse en uitdagings. Hy het ook gespog met hul hommeltuig en die suksesse wat al daarmee behaal is, veral in samewerking met die polisie. Een van dié suksesse sluit in die inhegtenisneming van twee dwelmgebruikers en vermeende dwelmhandelaars.
Bill Hulme, ook lid van die tak se bestuur, het terugvoer gegee oor omgewing- plaaslike-regering-sake en het spesifiek gepraat oor die tak se werk in verband met die riool in die Plankenbrug-, Veldwagters- en Eersterivier. Die Stellenbosch-tak se aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) duur steeds voort.
Die tak het reeds in Oktober verlede jaar die aansoek by die Stellenbosch-munisipaliteit ingedien en inligting oor rioolstorting in die betrokke riviere geëis. Nadat die munisipaliteit geweier het om die meeste van dié inligting, soos versoek in die Paia-aansoek, beskikbaar te stel, het die tak in Januarie besluit om appèl aan te teken teen die besluit om inligting te weerhou. AfriForum het nog geen verdere terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie en oorweeg verdere stappe.
“Ons wil graag lede van die gemeenskap aanmoedig om by AfriForum se Stellenbosch-tak betrokke te raak en hulle te ondersteun om hierdie belangrike projekte te kan dryf,” het Benade afgesluit.