Die ma van ’n 16-jarige seun van Cloetesville sê sy sou nooit kon dink dat dit die laaste keer sou wees dat sy haar seun lewend sou sien toe hy die oggend gegroet het om skool toe te gaan nie.
Tania Gordon van Smartie Town sê haar seun Eathan Fortuin het die oggend voor skool gevra dat sy vir hom ’n “toutjie-pet” moet koop vir sy 17de verjaarsdag op 8 November – min wetend dat sy hom nooit weer lewend sou sien nie.
Fortuin is Vrydagaand in ’n massa-skietvoorval op pad huis toe doodgeskiet.
Volgens Gordon was Fortuin en sy vriende op pad huis toe nadat hulle twee van hul vriende huis toe geneem het toe die koeëls op hulle begin reën het. “Hulle het op die veld agter die sportveld geloop toe iemand op hulle losgebrand het. Ek het net by die huis gekom van die werk af.
“Sy een vriend wat die skietery ontsnap het, het my by die huis kom roep en gesê iemand het op hulle geskiet en dat ons moet gaan kyk waar Eathan is,” vertel Gordon.
Gordon sê Fortuin was ’n dierbare kind en almal was lief vir hom.
“Ek gaan my kind baie mis. Hy het my altyd laat lag en het altyd met my gesels. Ek gaan sy arms om my lyf mis wanneer ek uit die werk uit kom. Sy broers gaan hom mis.”
Die Cloetesville-polisie het Maandag (31 Oktober) bevestig dat sewe mense gewond en een dood is in twee afsonderlike skietvoorvalle die afgelope naweek.
Die eerste skietvoorval het Vrydag (28 Oktober) omstreeks 22:00 in Crombiestraat plaasgevind toe die skieter op vyf jong mans, almal tussen 16 en 19 jaar oud, losgebrand het. Vier is beseer en die vyfde, ’n 16-jarige, het in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Volgens AO Zenobia Sedeman, polisiewoordvoerder, het die slagoffers net skote gehoor. “Die slagoffers het geloop toe die skieter hulle van agter af aanval. Dit was baie donker en hulle kon nie die skieter sien nie,” het Sedeman bygevoeg.