Stellenbosch United FC (SUFC) het die afgelope naweek die 2022-’23-seisoen van die MRL-sokkerliga ná ’n asemrowende vertoning teen Mbekweni United FC op die Idasvallei-sportterrein gewen.
Die tuisspan moes met een speler minder klaarmaak nadat sy kaptein, Marlin Pool, in die 75ste minuut ’n rooikaart gekry het, maar die wedstryd steeds 3-1 gewen.
“Dit was ’n onvergeetlike middag van opwindende sokker en bewys dat die spelers nie hul veggees verloor het nadat hulle 1-0 agter was nie,” sê Natalie Apollis, SUFC se spanbestuurder.
SUFC het voor ’n geesdriftige tuisskare teruggeveg en die telling voor halftyd 1 elk gemaak toe Pool die tuisspan se eerste doel aangeteken het.
Die Idasvalleiers het die tweede helfte oorheers en nog twee doele aangeteken, met Pool en Curwin Williams wat elk ’n doel aangeteken het. “Ons doelwagter, Jade February, het uitstekend presteer deur ons doelhok skoon te hou en geen verdere doele af te staan nie. Dit was ’n uitmuntende vertoning van ons hele span,” sê Apollis.
Apollis sê SUFC het ’n goeie seisoen met baie hoogtepunte en harde werk beleef. “Ons het 14 wedstryde gespeel, waarvan ons nege gewen het, een gelykop gespeel en vier verloor het.
“Ons volgende uitdaging is om op 1 en 2 Julie in die Veldrift-uitspeelwedstryde te speel om die kampioen van die Streekliga te probeer word. Ons sal die SAFA Cape Winelands-gebied verteenwoordig. Ons is baie trots op al ons spelers en weet ons sal Stellenbosch in Velddrift trots maak. As ons daarin slaag, speel ons volgende seisoen in die ABC Motsepe-liga,” voeg sy by.
Apollis het die hoofafrigter, Cashwall Pool, en hulpafrigter, Wildon Hendrikse, geprys vir hul rol in die span se sukses. “Hulle het die span gemotiveer en op hierdie belangrike wedstryd voorberei.
“Ons wil ook graag ons skenkers vir hul ondersteuning bedank. Baie dankie aan Langeveldt Auto en Eikestad Towing, asook die Idasvallei-sportterrein. Sonder hulle sou ons nie hierdie sukses kon behaal het nie.”