Nie een nie, nie twee nie, maar drie skole in Stellenbosch het daarin geslaag om ’n 100%-slaagsyfer te handhaaf met die onlangse bekendmaking van die matriekuitslae.
Hoër Meisieskool Bloemhof, Rhenish Girls’ High en Hoërskool Stellenbosch se volledige matriekklasse van 2016 het daarin geslaag om hul skoolloopbane suksesvol af te handel.
Nog meer indrukwekkend is die verbetering in slaagsyfers by twee ander skole. Makupula Secondary School in Kayamandi se slaagsyfer het verbeter van 75,2% in 2015 tot 87,9% in 2016.
Stellenzicht Secondary het vir die grootste verrassing gesorg danksy die verbetering in dié skool se slaagsyfer van 50% in 2015 tot 86,2% in 2016.
Die dorp kan ook spog met vele A-kandidate. By Bloemhof het 68 van die 137 kandidate met ’n A-gemiddelde geslaag, 29 van hulle met sewe onderskeidings of meer en tien van dié leerders met gemiddeldes bo 90%.
Dié skool se toppresteerder, Jacobie Mouton, het haar skoolloopbaan met ’n 96,83%-gemiddeld afgesluit, terwyl Jana Heyns en Marli van Niekerk gemiddeldes van onderskeidelik 95,33% en 95% behaal het.
“Ons is dankbaar dat almal toelating tot universiteitstudies gekry het en dat 50% van die klas met ’n A-gemiddelde kon slaag, want dit bewys weer eens wat ons glo: as daar ’n algemene gees van goeie dissipline heers, uitstekende werksetiek onder opvoeders en leerders is, elkeen gelukkig is in hulself en waar hulle hulle bevind, kom prestasie vanself,” sê Bloemhof-hoof Wilna van Heerden.
“Die uitdaging is nie om die toppresteerders te laat presteer nie, hulle doen dit in elk geval, maar juis om die groep tussen 65% en 73% te stimuleer en te ondersteun om ook bo 80% te kry.”
Sy sê bowenal moet die fokus nie puntegedrewe wees nie, maar mens- en waardegedrewe.
“Maak van die leerders goedopgevoede en gemanierde jong dames wat krities kan dink en hul plek in die wêreld kan volstaan en hulle sal hul volle akademiese potensiaal wil bereik.”
Rhenish het ook ’n stewige hoeveelheid A-kandidate gelewer. Van die 49 leerders wat A-kandidate is, het 10 ’n gemiddelde bo 90% behaal. Maria Stallman het nege onderskeidings behaal terwyl Priyanka Govender Rhenish se toppresteerder was met ’n gemiddeld van 95,3%.
“Die pad na sukses in matriek begin wanneer ’n leerder in graad 8 by Rhenish aankom,” sê skoolhoof Helmien Slabber.
“Elke onderwyser met wie die meisies kontak gehad het gedurende hul tyd by Rhenish het bygedra tot dié wonderlike uitslae.”
“’n Toegewyde personeel wat daartoe verbind is om die ekstra myl vir elke leerder te gaan, is wat Rhenish Girls’ High so ’n unieke skool maak. Hul onderwysers se vertroue in hulle bemagtig ons leerders om uitmuntendheid na te jaag.”
Paul Roos Gimnasium het ’n slaagsyfer van 99,1% behaal en 62 A-kandidate gelewer. Van die 223 kandidate wat by die skool eksamen afgelê het, het 205 met matrikulasie- vrystelling geslaag.
Hans-Jacques Koetsier, die skool se toppresteerder, het ’n gemiddeld van 93,9% behaal. Dewald Lombard en Jan-Hendrik Duminy het gemiddeldes van onderskeidelik 92% en 91,9% behaal.
Paul Roos se rektor, Jannie van der Westhuizen, sê hy is baie bly oor die resultate.
“Hierdie resultate bevestig dat ons ’n voorste akademiese instelling vir seuns in Suid-Afrika is – en mag dit lank so aanhou!”
V Meer foto’s op bl. 12 en 13.