Raadslid Koos Steyn (portefeuljehouer: Toerisme, KWDM), saam met Mareletta Mundey (Ashton en Montagu Toerisme), die beoordelaar Louine Griessel, (Wes-Kaapse Vereniging van en vir Mense met Gestremdhede), WKDM-burgemeester dr. Elna von Schlicht, Jenna Moses (Visit Stellenbosch), Cheryl Phillips (Drakenstein-munisipaliteit) en Chrismare Carse (Drakenstein-munisipaliteit). Voor is die uitvoerende hoof van Liveable and Able2Travel Accessible Travel, Tarryn Tomlinson.


“In die Kaapse Wynlande- distrik herinner ons besoekers dat daar ’n duisend dinge is om te doen, en dan … ’n bietjie wyn!”

Dít was deel van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), dr. Elna von Schlicht, se hoofrede by die jaarlikse Burgemeesters-toerisme-toekennings.

Toerismemaand word in September gevier, met Toerismedag wat Saterdag (28 September) herdenk is. Deel van die plaaslike vierings was die toekennings.

“Die inskrywings vir hierdie jaar se Burgemeesters-toerisme-toekennings is almal leiers op die gebied van universele toeganklikheid. Ek het nooit geweet dat ’n rolstoelgebruiker valskermspring kan doen nie!” het Von Schlicht verduidelik.

Visit Stellenbosch het met goud weggestap en sy deel van die R100 000-prysgeld gewen.

Plaaslike toerismeverenigings, wat deur die distriksmunisi­paliteit ondersteun word, is genooi om ’n gedetailleerde reisskema te ontwerp met geskikte verblyf en aktiwiteite vir ’n gesin wat uit ’n entoesiastiese bergfietsryer, ’n ma met ’n peuter en ’n vier maande oue baba, en ’n rolstoel-gebruikende smaakmaker en haar assistent bestaan.

Die toerismeverenigings moes al die behoeftes van hierdie besige en invloedryke gesin in ag neem.

Visit Stellenbosch het goud ontvang vir hul avontuurlike en gastronomiese ervaring wat vir die hele gesin geskik is. Aktiwi­teite het rolstoel-vriendelike E-fietsritte, ’n besoek aan die Elemental-speeltuin en verskeie avontuurlike aktiwiteite vir hierdie diverse gesin ingesluit.

Volgens die beoordelaars het die gehalte van die inskrywings dit ’n moeilike taak gemaak om ’n wenner te kies. Die inskry­wings moes die begrip van universele toeganklikheid op die scenario toegepas het, en die passie en kennis van die deelnemers het uitgestaan, het die beoordelaars gesê. Die silwer-toekenning het aan Montagu-Ashton gegaan vir hul aanbod van ’n trekkerrit op ’n spesiaal toegeruste wa na die bopunt van die Langeberge. Drakenstein Toerisme het brons ontvang vir hul aanbieding wat rolstoel-vriendelike tandem- valskermspring en ’n piekniek op Paarl Rock ingesluit het.

Koos Steyn, portefeuljehouer vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het op sy beurt gesê hy is beïndruk deur die passie en kennis van die deelnemers.

You need to be Logged In to leave a comment.