Die Stellenbosch Woordfees het inskrywings vir sy gewilde kortverhaalkompetisie geopen, met ‘n hoofprys van R30 000 vir die wenverhaal.

Die kompetisie – nou in sy 11de jaar – het volgens Saartjie Botha, die direkteur van die Stellenbosch Woordfees, ‘n literêre instelling geword. “Dit dien as ‘n soort jaarboek waarmee Afrikaanse skrywers iets van die spesifieke tydsgees met elke oes kortverhale weerspieël,” sê sy.

Die bundel pronk met ‘n indrukwekkende rekord.

Die afgelope dekade is 2 829 verhale beoordeel, waarvan 239 die finale bundel gehaal het. Vorige wenners sluit die bekroonde Lynthia Julius in, terwyl skrywers soos Michèle Meyer, Clari Niemand en Hendie Grobbelaar se wenverhale in Silwerskermfees-kortflieks verwerk is. Tarina Jordaan het die 2025-kompetisie gewen.

“Aangesien ons 10de bundel in Oktober gepubliseer is, begin ons as’t ware ‘n nuwe siklus,” verduidelik Suzette Myburgh, die sameroeper van die keurpaneel. “Ons het die bundel met inskrywings van hoogstaande gehalte van krag tot krag sien gaan. Met hierdie wedstryd wil ons alle skrywers opnuut aanmoedig om hul wonderlike verhale met ons te deel.”

Die skrywer van die wenverhaal ontvang R30 000, terwyl die res van die skrywers wat in die bundel opgeneem word, elkeen R5 000 kry. Skrywers wie se verhale gekies word, sal in Julie 2026 aangekondig word, terwyl die wenverhaal tydens die 26ste Stellenbosch Woordfees in Oktober 2026 aangekondig sal word.

Die kompetisie is oop vir alle skrywers, maar prysgeld word slegs in randwaarde betaal en bundeleksemplare word net binnelands gestuur. Werknemers en familie van die Stellenbosch Woordfees word nie toegelaat om deel te neem nie.

Anders as baie ander kompetisies het hierdie wedstryd geen voorgeskrewe tema nie. Skrywers is vry om oor enige onderwerp te skryf. Die bundel sal wel die jaar se feestema as titel hê, maar dít sal eers in 2026 bekend gemaak word.

Slegs Afrikaanse kortverhale word aanvaar, met een inskrywing per skrywer toegelaat. Verhale moet tussen 1 500 en 3 000 woorde lank wees en moet oorspronklik en nuutgeskryf wees. Geen AI-gegenereerde inhoud of voorheen gepubliseerde werk word aanvaar nie.

Keuring word streng anoniem gedoen. Die skrywer se naam en kontakbesonderhede moet op die aanlyn inskrywingsvorm ingevul word, maar nie by die verhaal ingesluit word nie. Slegs die titel moet duidelik sigbaar boaan die verhaal verskyn.

Verhale moet in MS Word-formaat aangebied word met genommerde bladsye, en geen PDF’s sal aanvaar word nie. Indien daar enige blatante verwysing na die skrywer in die verhaal gemaak word, sal die verhaal summier gediskwalifiseer word.

‘n Maksimum van 25 verhale sal vir die bundel gekies word. Kopiereg van die verhale berus by die skrywers, maar kopiereg van die bundel setel in die Stellenbosch Woordfees. Verhale sal voor publikasie geredigeer word, met goedkeuring daarvan deur die skrywer.

Inskrywings sluit om 17:00 op 1 April 2026 en geen laat inskrywings sal aanvaar word nie. Inskrywings sal met ontvangs erken word van 2 Februarie 2026.

Navrae kan per e-pos aan [email protected] gerig word, maar slegs skriftelike navrae sal beantwoord word. Meer inligting en die aanlyn inskrywingsvorm is by www.woordfees.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article