Rugbyliefhebbers van Stellenbosch en omgewing het Saterdag (10 September) die Bergzicht-paviljoen en die grenslyn volgepak om die derby tussen Van der Stel-Evergreens (VDE) en Blakes in die Promosieliga van die WP-Rugbyunie by te woon.
VDE het Blakes 21-10 geklop en is steeds boaan die punteleer.
Dit was uit die staanspoor duidelik geen genade gaan gevra of betoon word nie, en die span wat wil wen, sal moet uithaal en wys.
In hul vorige kragmeting in die noordelike liga het VDE ook gewen nadat die vleuel Lorenzo Claassen die bal onderskep en onder die pale gaan druk het. Hy het Saterdag nie net hoë balle uit die lug gepluk nie, maar sy lopie langs die kantlyn met ’n drie afgerond.
Blakes het eerste bloed geruik en die losskakel Athon Arnolds het met ’n strafskop geslaag om die telling 3-0 te maak. Die VDE-losskakel, Leroy Ruiters, het die telling gelyk gemaak toe hy ook na die pale toe aangelê het (3-3). Hy het kort daarna die voorsprong gerek toe hy nog ’n strafskop oorgeklits het (6-3).
Kort voor rustyd het Claassen sy drie gedruk, wat deur Ruiters verdoel is om die rustydtelling 13-3 te maak.
Ruiters het ook ná rustyd met nog ’n strafskop geslaag om die telling 16-3 te maak.
Blakes se spelskepper, die heelagter Aldrin Greeff, is met ’n armbesering van die veld af en die span kon weens die verdediging van VDE nie aan die gang kom nie.
Die vleuel Warren de Kock het Greeff se afwesigheid uitgebuit en VDE se tweede drie gaan druk. Ruiters kon nie verdoel nie (21-3). Laat in die tweede helfte het die senter Eddie Fredericks vir Blakes gaan druk en Arnold het verdoel (21-10).
Blakes het nog twee taai wedstryde oor – Saterdag 17 September teen die Hamediehs in Athlone en 1 Oktober moet hulle na Sir Lowry’s Pass reis vir hul laaste kragmeting teen Sir Lowrians.
Ronald Adendorf, Blakes se voorsitter, het ná die wedstryd gesê die spelers is positief ná die nederlaag teen VDE en wil alles in die stryd werp om Hamediehs te klop. Dit is nie maklik om Hamediehs op sy tuisveld te klop nie, maar daar is altyd ’n eerste keer.
VDE speel Saterdag teen Atlantis op laasgenoemde se tuisveld en sal daarna die vertonings van die ander spanne dophou om te sien wie in die eerste vier posisies in die promosieliga eindig.
Hamediehs het Saterdag 22-16 met Violets in Athlone afgereken, terwyl Masiphumelele 30-14 in Noordhoek met Lagunya afgereken het. Masiphumelele is die enigste span wat Hamediehs se onoorwonne status kortgeknip het deur hom 29-25 in Noordhoek te klop.
Noordelikes het teen Atlantis op Avonwoodpark weer tweede viool gespeel en 31-22 verloor.. Wedstrydbepalings vir Saterdag 17 September: Hamediehs teen Blakes; Atlantis teen Van der Stel-Evergreens; Masiphumelele teen Noordelikes; Sir Lowrians teen Lagunya en Violets het ’n loslootjie.