Jacques du Toit, ’n inwoner van Stellenbosch, is die tromspeler vir die sangeres Anja se band en hy is ook in haar eerste amptelike liedjie se musiekvideo, “Chevy” te sien.
Du Toit het op 13-jarige ouderdom begin tromme speel en het oor die jare heen al in verskeie bands gespeel, insluitend gospel- en popmusiek-groepe. Die talentvolle 24-jarige kan ook die kitaar, baskitaar, klawerbord en klavier speel en hy bied deeltyds musieklesse aan.
“Chevy” is deur Anja geskryf en sy is welbekend op sosiale media waar sy gereeld liedjies sing en plaas. Sy sing in Afrikaans, Engels en Nederlands en sing covers asook liedjies wat sy self skryf.
Behalwe vir vertalings gee sy ook soms haar eie vertolking van bekende liedjies. Haar interpretasie van die Bruce Springsteen se “Tougher than the Rest”, getiteld “Sterker as die Res” is reeds meer as een miljoen keer op Facebook en meer as 700 000 keer op TikTok gekyk.
Anja het al saam met van Suid-Afrika en Afrikaanse musiek se grootste name opgetree, soos Demi Lee Moore, Steve Hofmeyr, Andriëtte Norman, Francois van Coke en Jo Black.
Die ander lid van haar band is die baskitaarspeler André van Eck, voorheen die kitaarspeler van die rockgroep Jack ’n Jill. Tydens sy termyn in die groep het hulle saam met van Suid-Afrika se grootste rockgroepe opgetree, waaronder Fokofpolisiekar, Foto na Dans en Taxi Voilence.
Jack ’n Jill het ook voorheen die Mystic Boer Battle of the Bands in Stellenbosch gewen en Van Eck het ook voorheen by die Klein Libertas-teater in Stellenbosch opgetree.
Die band-tonele in “Chevy” se musiekvideo is op Bloubergstrand geskiet.