Jean Retief van die Hoërskool Stellenbosch het onlangs na die ATKV se TV-realiteitsreeks, Gekies vir die Kollig, deurgedring.
Die reeks is in 2023 weer op pad na jou skerm, en hierdie keer met ’n nuwe tema én ’n nuwe kinkel. Vanjaar sê die vier mentors mekaar ook die stryd aan: Elke mentor neem twee van die agt finaliste op die stel van Gekies vir die Kollig onder hul vlerk en gee advies en raad oor die top-8 se opnames, voordat ’n splinternuwe paneel, wat die finaliste se werk nog glad nie gesien het nie, die finale opnames beoordeel om vanjaar se wenner van ATKV-DigiToneel te bepaal.
JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-DigiToneel, sê hy is opgewonde om te sien wat hierdie nuwe dinamika na die kompetisie en na die program gaan bring.
“Die talent is uitsonderlik en ek is daarvan oortuig dat die mentors wat nou saam in die bokskryt klim die heel beste in die top-8 gaan uitbring.”
Die vier mentors tydens vanjaar se kompetisie is Jacques Bessenger, Solomon Cupido, Wilhelm van der Walt en Mari Molefe van Heerden.
Die top-16 het geskaaf aan hul inskrywings na gelang van die terugvoer wat hulle ontvang het tydens die eerste ronde en die mentors moes kopkrap om die top-8 aan te wys.
Die top-8 word nou genooi na die stel van Gekies vir die Kollig, waar hulle nog meer ondervinding gaan opdoen deur met ’n kameraspan en hul mentors te werk voor hul finale opnames deur ’n nuwe paneel beoordeel word.
Die top-8 is:
. Corrine-Marie van Hoogdalem (Beminde), Hoërskool Noordheuwel;
. Danelle Jacobs (Skisofrenie), Hoërskool Martin Oosthuizen;
. Hanli Theron (I’m just a girl standing in front of a boy), Hoërskool Jan van Riebeeck;
. Inge Marx (K.A.R.A.), Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria;
. Jean Retief (Opbreek), Hoërskool Stellenbosch;
. Johan du Plessis (En toe sien ek haar . . .), Grey Kollege Bloemfontein;
. Nina Strydom (Die smaak van damwater), Hoërskool Parel Vallei; en
. Paul Strydom (Die straf van skaamte), Hoërskool Parel Vallei.
Maak gereed vir groot drama en ’n sensoriese ontploffing van talent wanneer reeks drie van Gekies vir die Kollig van 3 Oktober op VIA (DStv-kanaal 147) in jou sitkamer kom kuier.