Stellenbosser sê ‘Die brug’ het sy lewe verander en hy sal dit weer doen

Hy het wel nie met die groot prysgeld of as wenner van Die brug weggestap nie, maar die Stellenbosser Geo Botha sê hy sal nie twee keer dink om weer aan die werklikheidstelevisie-reeks deel te neem nie.

Geo Botha van Stellenbosch vertel oor sy ervaring op die werklikheidstelevisie-reeks, Die brug.Foto:

Credit: SYSTEM

Hy het wel nie met die groot prysgeld of as wenner van Die brug weggestap nie, maar die Stellenbosser Geo Botha sê hy sal nie twee keer dink om weer aan die werklikheidstelevisie-reeks deel te neem nie.

Die 36-jarige pa van een was een van 12 wat deelnemers aan die splinternuwe televisiereeks wat aan die einde van Oktober op kykNET (DStv-kanaal 144) begin het (“Geo in nuwe reeks”, Eikestadnuus, 2 November 2023). Die 12 vreemdelinge moes as ’n span in ’n afgeleë wildernis by die Buffeljagsdam in Swellendam binne 20 dae ’n brug bou in die hoop om met die R1 miljoen-prysgeld weg te stap.

Aan die einde van die reeks was daar slegs sewe oorblywende spelers, en die 35-jarige Robert Kruger van Johannesburg het genoeg stemme verwerf om oor Die brug te loop en die R800 000-prysgeld te wen. Botha en Kruger het vroeg in die reeks reeds elk R50 000 gekry, terwyl Larry Alcock en Melanie Koegelenberg in die voorlaaste episode gekies het om hul spel tot ’n einde te bring en elk met R50 000 huis toe te gaan deur die span se harde werk te saboteer.

Afgesien van al die drama wat met ’n werklikheidstelevisie-program gepaard gaan, beskryf Botha sy ervaring op die program as “ongelooflik”.

“Om afgesonder te wees van realiteit was op ’n manier bevrydend. Ons het fisiek baie hard gewerk, maar die onverwagse wendings in die spel het dit interessant gehou. Ek het ook baie van (meeste) van die spelers gehou en goeie gesprekke gehad,” vertel hy.

“Ek sal nie iets verander aan die manier wat ek gespeel het nie. Ek’t gespeel soos ek vooraf beplan het; ek het lojaal gebly aan die wat ek gesê het ek sal en ek het elke oomblik geniet.”

Botha, wat byna vier jaar gelede vanaf Pretoria na die Eikestad verhuis het, het besluit om vir Die brug in te skryf weens sy kompeterende en avontuurlustige natuur. Hy sê die program was vir hom die ideale uitdaging, en glo sy beroep as welvaartsbestuurder het hom gehelp om die verskillende persoonlikhede in die spel te navigeer.

“Ek werk elke dag met verskillende persoonlikhede en moet ’n oplossing vir hulle probleme kry. Ek moet ook onemosioneel en strategies na hul situasie kyk en ’n plan uitwerk om hulle doelwitte te help bereik,” verduidelik hy.

“Ek’t op die program werklik goeie vriendskappe gevorm en ek sien uit om saam met hulle vorentoe sukses te behaal. Ek is in kontak met baie van die spelers; dis onnatuurlik dat alle persoonlikhede oor die weg sal kom en vriende bly. Ek’t nie kwade gevoelens teenoor iemand nie en almal moet saam leef met die besluite wat hulle gemaak het.”

Voor die verfilming van die reeks het Botha seker gemaak hy is topfiks om aan die uitdagings van die program deel te neem. Fiksheid is in die algemeen deel van sy daaglikse lewe, want sy vrou, Vicky van der Merwe, is ’n Suid-Afrikaanse driekampatleet wat hoop om aan die Olimpiese Spele deel te neem.

“Ek hou ook van golf, reis en ’n goeie bottel rooiwyn. Oefening is ’n groot deel van ons lewe. Fisiek was ek fiks en het baie gaan stap met my seuntjie op my rug,” vertel hy. “Verder het ek selfondersoek gedoen om te weet wat my sterk en swak punte is. Ons het wel nie geweet ons gaan ’n brug moet bou nie.”

Ná hulle van die bou van die brug aan die begin van die program ingelig is, het Botha onmiddellik sy strategie en plan begin beraam deur te dink met watter mededeelnemers hy aan die einde wou staan.

“Persoonlike verhoudings was baie belangrik en ek het baie teruggehou aan die begin. Later het ek meer na vore getree en aggressief gewerk om die plan in plek te kry. Alles het baie goed gewerk en met sewe persone oor was ek in ’n baie goeie posisie, sou nog spelers uitgestem moes word,” sê hy.

Sy hoogtepunt van Die brug was om in die natuur sonder tegnologie vir 20 dae te wees, maar ook om dit met ander te kon deel en in ’n span aan ’n gemene doel te werk. “Die heel laaste wending in die spel was ongelukkig ’n laagtepunt vir my. Die persone aan wie ek lojaal was, het nie dieselfde opgetree nie en ook nie die besluite geneem wat ek na drie weke saam gedink het hul sou nie,” sê Botha.

“Die trotse deel van my ervaring is om weg te stap en te voel ek het gewen: nie net in terme van geld nie, maar die ervaring en oor hoe ek gespeel het.”

Hy sal sonder twyfel weer vir Die brug of ’n soortgelyke uitdaging inskryf, want “dis ’n avontuur en ervaring soos min” en dit het sy lewe verander. “Die groot verskil tussen ’n realiteitsreeks en sosiale media is dat jy met sosiale media kan jy kies wat jy plaas, jy kies dus net die beste en wat jy wil hê ander moet sien. In so ’n reeks is jy ontbloot, jy kies glad nie wat hulle wys nie. Dit gee jou die vrymoedigheid om jouself te wees en nie voor te gee nie,” sê Botha.

“Baie mense het my ná die program genader en gesê dat hulle hou van die manier wat ek dink en dat ek hulle moet help met hul finansies. Ek’t ook besef ek kyk anders as meeste mense na situasies en kan dit tot my voordeel gebruik.”

Hy verlang soms terug na sy tyd in die wildernis in Swellendam, maar veral na die opwindendheid van elke fakkel se onsekerheid. En hy hoop om binnekort by sy medespelers Nonnie Geldenhuys en William Walters aan die Weskus te kuier.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.