Die jaarlikse Liggiefees word Saterdag 29 en Sondag 30 November in Stellenbosch aangebied. Foto: Francois Lombard
Die jaarlikse Liggiefees word Saterdag 29 en Sondag 30 November in Stellenbosch aangebied. Foto: Francois Lombard

Die liggies sal Saterdag 29 en Sondag 30 November op Die Braak skyn, maar min van die skitterende talent sal uit die plaaslike gemeenskap kom.

Dit is die klagte van talle Stellenbossers nadat die Stellenbosch-munisipaliteit vandeesmaand die kunstenaars vir die jaarlikse Liggiefees aangekondig het. Onder die bekendes wat Saterdag 29 en Sondag 30 November sal optree, is Die Heuwels Fantasties, Craig Lucas, Don Vino en Tebogo Louw.

“Al weer? Stellenbosch het soveel talent dat hulle nie eens buite hoef te gaan soek nie. Wie reël die besigheid? Nee man,” het ‘n ontstoke inwoner op sosiale media gekla.

Plaaslike musiekmakers sal wel die naweek optree. Hul name verskyn egter nie op die plakkaat vir die fees nie. Volgens Rudy “RCJ” Joubert het hy sy groot musiek-doelwit vir die jaar bereik toe hy gekies is om by die Liggiefees op te tree.

“Ek het die doelwit vir myself gestel en seker gemaak ek doen so baie optredes as moontlik. Ek het vanjaar in voorbereiding vir my oudisie geen nuwe musiek bekendgestel nie.

LEES OOK: Idasvallei se Amapretty gaan van emmers tot aanlyn musiek-sterre

Munisipale amptenare op die verhoog tydens die aangeskakeling van die Kersliggies op Die Braak in Stellenbosch in 2024. Foto: Francois Lombard
Munisipale amptenare, insluitend burgemeester Jeremy Fasser, op die verhoog tydens die aangeskakeling van die Kersliggies op Die Braak in Stellenbosch in 2024. Foto: Francois Lombard

Groot oomblik vir ‘RCJ’

“Hoewel ek nie noodwendig ‘n groot aantal volgelinge op sosiale media het nie, was dit ‘n wow-oomblik toe ek vir die fees gekies is. Dit het my laat besef – al het ek soms gevoel ek wil my musiekloopbaan prysgee, is ek goed genoeg om aan te hou. Hier het die beoordeelaars my gekies om by die groot geleentheid op te tree,” vertel dié gospel-rymkletser van Cloetesville.

Die Stellenbosch-munisipaliteit hou jaarliks ‘n ta­lentkompetisie vir plaaslike talent. Die wenners van die kompetisie se groot prys is om by die fees op te tree. Benewens RCJ sal die plaaslike musiekma­kers Proudly Coloured van Idasvallei ook op die verhoog wees.

Volgens die burgemeester Jeremy Fasser streef die munisipaliteit om die beste moontlike fees aan te bied.

“Dit is Stellenbosch se liggiefees en ons wil natuurlik die beste kunstenaars hê om op te tree. Ons is ook nie die enigste dorp wat ‘n liggiefees aanbied nie ­– Kaapstad, Drakenstein en soveel ander dorpe het ook hul feeste elke jaar. Vanjaar se kunstenaars is fantasties en daar is iets vir almal om na uit te sien,” meen hy.

Fasser sê hy onthou hoe hy as kind die geleentheid bygewoon het. “Die Stellenbosch-liggiefees sal vir my as ‘n kind wat in Stellenbosch grootgeword het, altyd baie spesiaal wees.

“Ek is van Cloetesville en in daardie vroeë jare het ons nie ons eie vervoer gehad nie. Die kerk het destyds jaarliks ‘n bus volgemaak en ons kon die fees bywoon. Die Stellenbosch-liggiefees is vir my die hoogtepunt van die jaar.

’n Feestelike atmosfeer heers gewoonlik by die Liggiesfees in Stellenbosch. Dié drie vriendinne het in 2023 in die feestydgees gekom deur met feestelike en helder haarbykomstighede te spog. Foto: Francois Lombard
’n Feestelike atmosfeer heers gewoonlik by die Liggiesfees in Stellenbosch. Dié drie vriendinne het in 2023 in die feestydgees gekom deur met feestelike en helder haarbykomstighede te spog. Foto: Francois Lombard

Kersliedere op Die Braak

“Families, vriende en kennisse kan bymekaarkom, groet en vir ‘n oomblik op die mees ikoniese grasperk in die Kaap – Die Braak – ontspan en sodoende die feesseisoen met dankbaar­heid en versoening ingaan en hopelik ook met nuwe hoop na 2026 uitsien.”

Net meer as R2,5 miljoen is vir die geleentheid begroot.

Eikestadnuus het na die munisipale kommunikasiespan uitgereik oor die keuringsproses vir kunstenaars vir die fees, maar het teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.

Fasser sê op sy beurt hoewel hy insae in die lys kunstenaars gehad het, bly dit ‘n administratiewe proses.

‘n Aspek van die fees, wat Fasser self gedryf het, was om Kersliedere as deel van die Sondag-program te hê. “Noem my sentimenteel, maar ek onthou hoe spesiaal dit vir my as kind was om saam met my ouma en ouers op Die Braak te kan sit en sing en die oomblik te kon geniet. Ek het dit beklemtoon dat die program weer terug moet beweeg na die oorspronklikke ‘Carols by Candlelight’ op Sondae.”

Deel van Sondag se program is dus ‘n halfuur met Kersliedere wat Fasser hoop om in 2026 verder uit te brei.

Wat plaaslike talent by die Liggiefees betref, sê Fasser die munisipaliteit sal in 2026 kyk hoe om meer plaaslike kunstenaars te bevorder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article