Stellenbossers op wenpad

Stellenbosse klubrugbyspanne is besig om momentum op te tel in hul onderskeie rugbyligas en besoekers sal in gedagte moet hou dat hulle nie punte by enige span op ’n skinkbord gaan kry nie.


Stellenbosse klubrugbyspanne is besig om momentum op te tel in hul onderskeie rugbyligas en besoekers sal in gedagte moet hou dat hulle nie punte by enige span op ’n skinkbord gaan kry nie.

Die Van der Stel-Evergreens-rugbyklub (VDE) het Hamlets Saterdag (20 April) in sy Superliga B-wedstryd op die Bergzicht-sportterrein gestuit deur hulle met 25-20 te klop. Die skeidsregter het ’n strafdrie aan VDE toegeken, waarna ’n onderonsie op die veld uitgebreek het. VDE het met ’n bonuspunt teen Hamlets gewen.

Eerskomende Saterdag pak VDE vir Strand, ook tuis, en Strand is ná twee wedstryde op soek na sy eerste oorwinning in die kompetisie.

Franschhoek het ’n loslootjie gehad en Kylemore het met 22-19 teen Vineyards, ook in ’n Superliga B-wedstryd, vasgeval. Kylemore speel teen All Saints tuis en Franschhoek reis na UWK vir sy kragmeting.

In Superliga C pak Pniël Villagers vir Blue Jets in Langa. Die span van die Dwarsriviervallei het Saterdag met Atlantis op laasgenoemde se tuisveld met 29-17 afgereken.

In die Noordelike liga het Stellenbosch-Coronations in sy derbystryd teen Excelsior met 41-15 afgereken, en spog nou met twee uit twee oorwinnings nadat die eerste wedstryd teen Blakes afgelas is. Hulle pak Whistling Wheels Saterdag tuis in Idasvallei.

Raithby Universals het ook teen Delft tweede gekom en met 15-13 verloor. Hulle kom Saterdag teen Sir Lowrians op laasgenoemde se tuisveld in die Helderberg te staan.

In die Suidelike liga pak Blue Stars United van Klapmuts vir Lagunya tuis nadat hulle die afgelope naweek teen Young Wesleys met 19-16 geseëvier het. Die oorwinning was ietwat kontroversieel, met Young Wesleys wat 10 minute voor die amptelike einde van die wedstryd die bal uitgeskop het en die verwarde skeidsregter wat toe reeds die eindfluitjie geblaas het.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.