Stellies-krieket maak dit 7 uit 7!

Die Stellenbosch-krieketklub het die afgelope naweek op sy onoorwonne wenreeks voortgebou toe sy eerste en tweede spanne Bergrivier-krieketklub behoorlik laat les opsê het.


Die Stellenbosch-krieketklub het die afgelope naweek op sy onoorwonne wenreeks voortgebou toe sy eerste en tweede spanne Bergrivier-krieketklub behoorlik laat les opsê het.

Stellenbosch I het Saterdag 26 November die lood gewen en besluit om eerste te boul. Met goeie weerstoestande het die tuisspan se boulers die besoekers van die staanspoor af onder druk geplaas toe Curtly Klaasen die Bergrivier-klub se aanvangskolwers vroeg in die beurt laat kantel het.

Nadat Klaasen die toporde onttroon het, het Likhona Gxwala die middelorde soos ’n kaartehuis laat tuimel waarna Yasier Jakoet die spel opgeruim het en van die lae-orde ontslae geraak het.

Bergrivier se kolfbeurt eindig op 145/10 danksy goeie boulvertonings van Klaasen (2/14), Gxwala (3/30), Jakoet (2/30) en Timmy Cornelissen (2/30).

Die vertoning met die bal het die Stellenbossers met selfvertroue ingestuur om te kolf. Bergrivier se boulers kon egter nie daarin slaag om die teiken suksesvol te verdedig nie en Cornelissen (72*) en Peter Minnis (45) het die Bergrivierders met ’n 50 lopie-vennootskap om die tweede paaltjie aan flarde geslaan.

Cornelissen en Minnis het veral onder die naatboulers ingeklim en lopies die hele veld vol gemoker.

Stellenbosch het die wedstryd uiteindelik in die 34ste boulbeurt met sewe paaltjies gewen om ’n wenreeks sewe uit sewe te maak.

Stellenbosch II het Bergrivier II Sondag 27 November op sy agterplaas met 30 lopies geklop.

Die besoekers is gevra om eerste te kolf en het 197/7 aangeteken. Die Stellenbosch-kolwers AS Barros (42), Razeen Luiers (32) en Sanele Qubada (24) het goed vertoon met die kolf.

Stellenbosch se boulers het egter vinnig klaargespeel met Bergrivier en die tuisspan vir 167 terug kleedkamers toe gestuur. Barros (3/21), Alveano Carolus (3/31) en Kieron October (2/21) het met die bal uitgeblink.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.