Leerders gaan die geleentheid kry om in moderne klaskamers hul prakties te doen.


Die Hoërskool Stellenbosch (HSS) spog nou met waarskynlik van die modernste wetenskapklaskamers in die Wes-Kaap.

Twee klaskamers, vir gebruik vir wetenskapeksperimente, is onlangs nuut ingerig met nóg drie wat later vanjaar voltooi gaan word.

’n Kort bekendstellingsgeleentheid is Woensdag 15 Augustus by die skool in Jannaschstraat in Stellenbosch gehou.

Niel Retief, departementshoof van die Hoërskool Stellenbosch en vakhoof vir lewenswetenskappe, sê die nuut ingerigte klaskamers is nie net visueel stimulerend nie, maar struktureel só ingerig dat leerders in die toekoms ook self eksperimente kan doen.

“Hoewel die nuwe klasse met hoëvlak­tegnologie soos WiFi, televisieskerms en moderne rekenaartoerusting spog, is dit bloot nie goed genoeg om eksperi­mente net op YouTube te wys nie. Leerders moet blootgestel word aan die reuke, klanke en geluide wat met die wetenskap gepaard gaan.

“Die nuwe klasse plaas ’n besondere klem op self- en ervaringsleer wat verryk word deur media- en elektroniese ondersteuning.”

Retief sê die vorige klasse was digby 40 jaar oud en móés opgeknap word.

“Wat ons nou het, is ’n ruimte waarin leerders wil leer en waar demonstrasies en prakties met gemak gedoen kan word.

“Die klaskamers – in ouditorium­styl – is ook so ingerig dat die onder­wyser só in die klas kan rondbeweeg dat hy of sy by elke leerder se werk­ruim­te kan uitkom om leermateriaal te verduidelik.

Retief meen ook die terugvoering is uiters positief met leerders en personeel wat “kinderlik” opgewonde is.

“Selfs oudleerders het my al gekontak om te sê hulle wil nou wéér biologie neem.”

Volgens Retief het elke klas ook ’n spesifieke tema.

“Lab 1 is ‘lewe’ en lab 2 word ‘DNA’ genoem. Dié klasse is ingerig vir lewenswetenskappe, terwyl nog twee klasse meer klem op fisika en chemie lê, met die praktiese laboratoriumtema ’n kombinasie van lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe.

Volgens die skoolhoof, Theo Pellissier, gaan die skool ook in September die nuwe astrohokkieveld bou.

“Dít alles in wat vanjaar ook die skool se 50ste verjaarsdagviering is. In aansluiting by ons visie probeer ons altyd in gedagte hou dat ons leerders vir die lewe ná skool voorberei, insluitend tersiêre studie.

“Ons probeer leerders toerus met praktiese vaardighede en nie net boekkennis nie.

“Die heringerigte klaskamers leen hulle uitstekend hiertoe aangesien dit praktiese vakke is wat hier aangebied word.”


.
Die klaskamers is ingerig met finansiële ondersteuning van die Dagbreek-fonds in samewerking met die Atterbury Trust.

You need to be Logged In to leave a comment.