Stellies spit sooi vir astrobaan

Die Hoërskool Stellenbosch (HSS) het Maandag 17 September ’n kort sooispitseremonie gehou om sy nuwe astrobaan bekend te stel.


Die Hoërskool Stellenbosch (HSS) het Maandag 17 September ’n kort sooispitseremonie gehou om sy nuwe astrobaan bekend te stel.

Wayne Carpenter, een van die projekleiers en ’n onder­wyser by die skool, sê dat dié astrobaan ’n jare lange droom vir die skool is.

“Hokkie by die Hoërskool Stellenbosch het die afgelope paar jaar met rasse skrede gegroei. Daarmee saam ook die behoefte om ’n astrobaan te bou omdat dit die standaard is as daar in hoër ligas beweeg word. Dit is inderdaad nou ’n droom wat bewaarheid word vir die skool en ook baie spesiaal omdat dit in ons halfeeufeesjaar plaasvind.”

Bouwerk aan die baan het reeds begin en behoort betyds voltooi te wees vir volgende jaar se seisoen.

Die baan sal op die huidige A-hokkieveld by die skool in Jannaschstraat gebou word. Die 91,3 x 55m astro sal ’n sand­basis-baan wees en sal die fyner, nuwegenerasie enkelfilament-mat wees wat van die begin af baie vinnig speel en meer standvastigheid onder voet voorsien. Synsport, wat al meer as 20 jaar ondervinding op hierdie terrein het, sal die mat installeer. In hierdie stadium sal die baan slegs ’n spelersgebied insluit, terwyl spreiligte en ’n telbord later bygevoeg sal word.

“Ons is ook verheug oor Laerskool Stellenbosch wat ’n vennoot in die projek is. Dit is goed dat laerskoolleerders blootstelling kry om op hierdie oppervlak te kan speel omdat dit die gaping tussen o.13 en o.14 asook tussen gras- en astro-oppervlaktes verklein,” verduidelik Carpenter.

“Die twee skole is reg langs mekaar geleë en die bestaande samewerking tussen die skole word so versterk. Daarmee saam word infrastruktuur gedeel om beter geleenthede vir leerders van die hoër- en die laerskool te skep.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.