Die Hoërskool Stellenbosch vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar. Hierdie fees duur die hele jaar en sal verskillende hoogtepunte hê.

Die eerste van hierdie byeenkomste is 8 Augustus wanneer ’n winterinterskole by die skool aangebied word. Die byeenkoms word teen die Hoërskool Montana van Worcester gehou.

Tussen 20 en 24 Augustus word ’n spesiale feesproduksie deur die skool se leerders aangebied. Die titel van die produksie sal binnekort bekend wees.

Op 22 September word een van die hoogtepunte van die feesjaar bereik met ’n reünie van oudleerders en -personeel. Die feesjaar word 19 Oktober met ’n groot gholfdag afgesluit.

Die skool het voorheen as die Stellenbosse Hoër Handelskool bekend gestaan en het 1 April 1968 tot stand gekom. Hoërskool Stellenbosch staan vandag bekend as ’n skool wat fokus op vernuwing en is ’n sterk waardegedrewe instelling.

Hoërskool Stellenbosch het hom die afgelope 50 jaar deeglik op alle terreine bewys, maar dit is veral die skool se ingesteldheid om ’n “ek behoort aan-”
gesindheid onder die Stellie-familie te vestig wat tot hierdie sukses bygedra het en steeds daarop uitbou.

Besoekers is welkom om enige van die feesgeleenthede by te woon en saam fees te vier.
. Kontak gerus die skool by admin@stellies.com of www.stellies.com

You need to be Logged In to leave a comment.