Niemand kon die breë glimlagte van ’n groep leerders keer toe hulle hul splinternuwe skooluniforms aangetrek het nie.
Vir Mandeladag het StelliezFest, ’n groep vriende van Idasvallei, teruggeploeg in hul gemeenskap en aan 150 behoeftige leerders van St. Vincent, PC Petersen, Brückner De Villiers, Vlottenburg, St. Ida’s, Cloetesville en Pieter Langeveldt Primêr nuwe skoolskoene, -sokkies en reënbaadjies geskenk.
“Ons is ’n klein groep vriende met ’n passie vir mooi vinnige motors en wou graag ’n verskil in ons gemeenskap maak.
“Ons het idees begin uitruil oor hoe ons die gemeenskap bymekaar kan bring en so ook geld insamel wat gebruik sou word tot voordeel van die gemeenskap,” sê Patrick Davids, ’n lid van StelliezFest.
Dié groep het sy eerste saamtrek vroeg vanjaar gehou en dit in April met ’n tweede fees opgevolg waar mense kon uitsien na vermaak deur The Rockets en Early B en ’n verskeidenheid motors wat ten toon gestel is.
“Vir Mandeladag het ons dit goedgedink om dié geld vir ’n goeie doel te gebruik.
“Ons hoop dat vandag se uitreik ’n verskil in elke kind se lewe maak en dat dié gebaar ook die hele gemeenskap sal aanmoedig om elke dag Mandeladag te maak en so ook iets vir iemand anders sal beteken.”
Die leerders is verder met middagete bederf.