Die rol wat maatskaplike organisasies in die samelewing vervul, is uiters belangrik vir die herstel en ontwikkeling van gemeenskappe wat gebuk gaan onder maatskaplike euwels, geweld en misdaad.
Om hierdie verandering teweeg te bring, is soms ’n eensame pad om te loop, maar deur verhoudings tussen skole en maatskaplike organisasies is dit nie ’n verre droom nie en kan hierdie probleme die hoof gebied word.
Stellsorg en Pieter Langeveldt Primêr (PLP) het in 2019 hande gevat en hierdie probleme op grondslagfase aangepak deur ’n veilige hawe vir kinders in Cloetesville op die been te bring.
Sowat 850 kinders kry daagliks kos by dié nasorgprogram, wat deur die organisasie bedryf word. En met behulp van vrywilligers het hulle ’n groot uitwerking op nie net die leerders se lewe nie, maar ook op die breër gemeenskap, gehad.
“Inbrake by die skool het sedert 2019 aansienlik verminder. Ons sien ook minder gedragsafwykings by leerders. En danksy Stellsorg kon ons regdeur die Covid-19-pandemie vir almal kos gee. Dit het regtig ’n groot verskil gemaak,” sê Shafiek Jacobs, PLP se hoof.
Die skool se nasorgprogram strek verder as net skooltye – dit word ook in skoolvakansies, insluitend hierdie Desembervakansie, aangebied.
Bettie Nieuwoudt, die hoof van Stellsorg, sê hierdie soort program help om maatskaplike probleme by kinders vroeër te identifiseer, wat dit makliker maak om iets daaraan te begin doen.
“Baie sou dink om minder maatskaplike gevalle te kry, is ’n goeie teken, maar dit is nie ’n aanduiding dat minder kinders mishandel word of probleme het nie. Hoe meer en hoe gouer ons hierdie gevalle kan identifiseer, help dit ons om vinniger hulp te kry vir kinders wat hulp nodig het,” voeg sy by.
“Dit is belangrik vir ons om hande te vat met skole sodat ons direk met die kinders op hul vlak kan werk. Onderwysers is nie altyd toegerus om maatskaplike probleme op te los nie – dit is hoekom maatskaplike werkers daar is.
“Die skool is veronderstel om die eerste kontakpunt met kinders te wees. Dit is die beste plek waar die probleem met die kind uitgeken kan word.”