StellSorg ondersteun slagoffers én oortreders

StellSorg Stellenbosch het onlangs sy nuwe verwysingsproses, die Referral Pathway, bekend gemaak wat slagoffers van geslagsgeweld help om vinniger en doeltreffende hulp te kry in tye van nood.


StellSorg Stellenbosch het onlangs sy nuwe verwysingsproses, die Referral Pathway, bekend gemaak wat slagoffers van geslagsgeweld help om vinniger en doeltreffende hulp te kry in tye van nood.

“Die Referral Pathway plaas die slagoffer tussen 16:00 smiddae en 08:00 die volgende oggend direk in verbinding met StellSorg se bekwame vrywilligers en maatskaplike werkers. Ons is natuurlik tussen 08:00 soggens en 16:00 smiddae ook beskikbaar by ons normale nommers. Ons het ’n bystandnommer vir hierdie proses,”sê LeAnne Kumalo, ’n maatskaplike werker by StellSorg.

Kumalo sê daar is altesaam nege vrywilligers wat toegerus is om die slagoffers te help en hul regte te beskerm deur die proses. “Die vrywilligers rapporteer eerste ding in die oggend aan die maatskaplike werker wat dan die proses verder neem om die slagoffer verder te ondersteun.”

In plaas daarvan om te wag dat die polisie StellSorg kontak, kan slagoffers direk kontak maak met StellSorg.

“Ons het ’n baie goeie netwerk en verhouding met die polisie en howe. Ons het ’n toegewyde polisieoffisier wat rekord hou van al die geslagsgeweld-gevalle en die howe aanvaar ons petisies. Deur hierdie proses kan alle rolspelers verantwoordelik gehou word.”

Kumalo sê die Referral Pathway help ook dat die prosesse ingevolge wetgewing hanteer word en dat die slagoffer se regte beskerm word.

“Ons bied ook ondersteuning aan die oortreders. Hiermee verskoon ons glad nie die misdaad nie – die gereg moet steeds sy gang gaan en die oortreders moet vervolg word. Ons het gevind dat baie van die oortreders eens op ’n tyd slagoffers van mishandeling was en om hierdie rede bied ons ook aan hulle ondersteuning om hulle op die regte pad te kry,” voeg sy by.

“Dit is ’n wanpersepsie dat slegs vroue en kinders slagoffers van gesinsgeweld is – hoewel dit meer gereeld voorkom, is mans ook soms slagoffers van geweld en mishandeling. Dit is nie altyd fisiek nie, maar emosioneel, wanneer vroue die mans emosioneel mishandel en in sekere gevalle selfs slaan ook.”

StellSorg bied ook ander ondersteuningsprogramme aan deur middel van die Sorg- en Ondersteuningsgroep. “Ons vergader een keer elke twee weke. By die programme gesels mense wat eerstehandse ondervinding het van geslagsgeweld en mishandeling met ander en motiveer mekaar deur die proses na herstel.

“Ons raai veral mans ook aan om aan hierdie programme deel te neem. Hoe meer mense ons betrokke kry by hierdie programme, hoe beter is dit vir die gemeenskappe waar die slagoffers asook oortreders is.” Slagoffers van geslagsgeweld kan StellSorg na ure by 079 309 5524 en in kantoorure by 072 535 6422 bereik vir ondersteuning.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.