StellSorg, voorheen bekend as die Kinder- en Gesinsorgvereniging, maar wie se funksies uitgebrei is om die hele gemeenskap te dien, het verlede Donderdag (30 November) sy 106de jaarvergadering gehou. Verslag is gelewer oor die aktiwiteite en funksies van die vereniging in 2023, waaronder 1 105 gevalle van die voorkoming van kindermishandeling, 41 ondersoeke van kindermishandeling, 68 kinders wat in pleegsorg geplaas is en die onderrig van 582 kinders in vier StellSorg-crèches in Stellenbosch en omgewing. Werk is ook verskaf aan 1 055 deelnemers aan die maatskaplike werkverskaffingsfonds (SEF) by onder meer maatskaplike dienste, gemeenskapsveiligheid, voorskoolse ondersteuning en die skep van groentetuine. Die organisasie is veral trots op sy entoesiastiese Oog op die Gemeenskap-vrywilligers, wat in die gemeenskappe en nou ook in die Stellenbosch-middedorp patrollies uitvoer, na-ure ondersteuning vir maatskaplike werkers bied, potensieel onveilige gebiede identifiseer en ook sjebiens en smokkelhuise ondersoek. Op die foto is van die Oog op die Gemeenskap-vrywilligers met hul Hands Off-hemde by StellSorg se direkteur, Bettie Nieuwoudt (agter, heel regs). Foto: Elsabe Retief