Onderwysers en ondersteuningspersoneel van Dorothea Spesiale Skool in Cloetesville het hul stemme by die jaarlikse 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders-veldtog gevoeg deur dié week stille betoging buite die skool te hou.
Die ondersteuners van die veldtog, gewapen met plakkate met slagspreuke teen geweld, het Maandagoggend (27 November) op die hoek van Lang- en Laastestraat in Cloetesville gestaan en ’n beroep op motoriste gedoen om die veldtog te ondersteun deur hul toeters te druk.
Volgens die skoolhoof, Anthea Williams, neem Dorothea-personeel jaarliks aan die stille betoging deel.
“Geweld is iets wat nie afsonderlik gebeur nie. As personeel beleef ons die impak van geweld by die skool,” sê sy.
“Ons leerders word deur geweld geraak, dus staan die skool nie in afsondering van geweld nie; dit spoel oor tot in die skool.”
Williams sê hulle ervaar gewoonlik veral in November en Desember ’n toename in gevalle van geweld.
“Daarom voel ons dis nodig dat ’n groter fokus op die voorkoming van geweld deur die hele jaar geplaas moet word,” sê sy.
“As skool bied ons die nodige ondersteuning aan ons leerders om die 12 waardes van die skool te beklemtoon, maar dis belangrik dat die omliggende gemeenskap ook die nodige ondersteuning kry.”
Die gemeenskapsaktivis Magdalene Blankenberg het die geleentheid ondersteun en ’n beroep op die breër gemeenskap gedoen om die waarde en erfenis van die Dorothea-skool in Cloetesville te erken.
“Ons moet ons denkwyses verander en meer sensitief teenoor die skool en die leerders wees. Die skool is ’n baken van hoop en dis tyd dat ons kwesbare leerders onderskraag,” sê sy.
“Die kinders word in ons gemeenskappe aan geweld blootgestel en hulle kry seer.
“Dis tyd dat ons meer voorkoming beoefen en werklik die potensiaal van ons kinders sien deur ons tyd, kennis en hulpbronne in hierdie skool te belê.”
Die skoolpersoneel beplan om deurlopend aan die veldtog deur middel van stille betoging deel te neem.