Stof gaan nie lê oor baniere op N1-snelweg

Die advertensiebaniere op die N1 sowat 200 m voor die Klapmuts-afrit het in Junie vanjaar redelik opslae verwek toe die Real Housewives van die Wynlande-televisieprogram daarop geadverteer is en dit ’n kragonderbreking in Klapmuts veroorsaak het.

Die Bossa-baniere op die N1 net voor die Klapmuts-afrit.Foto: Jana Scheepers

Credit: SYSTEM

Die advertensiebaniere op die N1 sowat 200 m voor die Klapmuts-afrit het in Junie vanjaar redelik opslae verwek toe die Real Housewives van die Wynlande-televisieprogram daarop geadverteer is en dit ’n kragonderbreking in Klapmuts veroorsaak het.

Volgens ’n berig wat Eikestadnuus se susterskoerant Paarl Post Vrydag 2 Junie aanlyn gepubliseer is, het ’n seil losgeruk en dit is in ’n kragdraad vasgevang wat kragtoevoer na die dorp belemmer het.

Die nasionale padagentskap (Sanral) het toe nie die nodige permitte vir die advertensie-strukture uitgereik nie. Die strukture is dus onwettig opgerig.

Die berig het ook Eskom gemeld wat gesê het dié staatsentiteit het uitgereik na die kontrakteur wat die baniere opgerig het, omdat dit te naby aan die kragdrade is.

’n Paar maande later het advertensie-baniere weer hul verskyning gemaak, maar dié keer op ’n wettige wyse met prente van smullekker kos op, met die doel om potensiële klante na die Bossa-kettingrestaurant te lok .

Volgens Sanral is die strukture egter steeds onwettig opgerig.

“Ingevolge die wet op die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap word advertensietekens nie in ’n landelike gebied toegelaat nie, maar slegs in ’n stedelike gebied met gedeeltelike minimum beheer (binne ’n dorpsverband). Die klassifikasie vir hierdie deel van die N1 is landelik en daarom is die vertoon van die strukture en advertensietekens in direkte stryd met die Sanral-wet en regulasies,” sê Sanral.

Jinja Outdoor Advertising, die eienaar van die torings, se argument verskil egter. Hulle meen hulle is binne hul regte en het die torings na ’n veilige afstand van die kragdrade af verskuif het – “meer as wat wetlik vereis word”. “Sanral het nie jurisdiksiebevoegdheid oor advertensietekens nie, soos dit deur die hooggeregshof bevestig is. Sanral was self ’n party by die aangeleentheid en het ’n petisie by die appèlafdeling van die hooggeregshof om verlof tot appèl aange­teken, wat deur die appèlhof geweier is,” het die advertensiemaat­skappy gesê.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.