Die stompneuskewer (polyphagous shothole borer) het nou ook sy pad na Stellenbosch gevind. By die huis van Judith Theron in die Boord is haar drie Japanese esdoringbome (Japanese maple) binne ’n jaar dood as gevolg van hierdie klein kewer, waarvan die wyfie maar net 2,6 mm groot is.
Volgens prof Francois Roets van die Stellenbosch Universiteit wat saam met sy studente die plaag monitor, is dit ook reeds by Onder Pappegaaiberg gevind en moes ’n gesneuwelde eikeboom in die dorp al verwyder word.
Soos die Engelse naam aandui, is die kewer wydvoedend en val dit ’n verskeidenheid boomsoorte aan. Dit verkies esdoring-, eike-, koraal- en plataanbome maar sal ook geelhout, vrugtebome en wingerde besmet. In die omgewing van Somerset-Wes is dit alreeds in van die appelboorde aanwesig. Die kewers dra ’n swam (Fusarium) saam waarmee hulle die bome besmet en waarop volwassenes sowel as larwes voed. Die swam verstop die vaatbundels van die plant wat veroorsaak dat dit doodgaan. Weens die ekonomiese en ekologiese impak van die plaag word intensiewe navorsing gedoen om afweermiddels, lokstowwe, gifstowwe en natuurlike vyande daarvoor te vind. Dis ’n resies teen die tyd, want stel jou voor: die Eikestad sonder eikebome en Victoriastraat sonder plataanbome.
Gelukkig vir ons het hierdie plaag uit die Ooste ook na Kalifornië en Australië versprei waar ook naarstiglik vir ’n oplossing van die probleem gesoek word. Om bome gereeld met insek- of swamdoders te behandel om hulle beskerm, het ongewensde newegevolge op die omgewing en sal hoogstens besmettings vertraag. Dis in elk geval nutteloos as die kewers eers binne die boom is.
Al wat op hierdie stadium gedoen kan word, is om die verspreiding van die kewer te probeer vertraag deur besmette bome af te saag, die stukke te versnipper of op te saag en dit dan in plastieksakke of onder ’n pastiekseil op ’n sonnige plek te laat vir 6-8 weke. Hou dit dig sodat die hitte die kewers doodmaak.
Aangesien hierdie benadering in die hele dorp se belang is, is dit belangrik dat die munisipaliteit hier die voortou neem en inwoners bystaan met die ondersoek en hantering van besmette bome, asook die berging van besmette hout.