“TB is oral en ons kan die stryd teen tuberkulose nie alleen veg nie. Dit is baie belangrik dat ons bewustheid skep rakende TB en die gevare daarvan, maar ook dat dit behandel en beter verhoed kan word.”
Met hierdie woorde het dr. Natasha Blakenberg, direkteur van die Stellenbosch-subdistrik, die Aan-het-pad-kliniek in Cloetesville se viering van internasionale TB-dag geopen. Die geleentheid het Donderdag 24 Maart by die Breughel-teater in Cloetesville plaasgevind.
Blankenberg het veral daarop klem gelê hoe gouer TB ontdek word, hoe gouer kan dit behandel word. “Meer as 10 miljoen mense het in 2020 TB opgedoen en 1,5 miljoen mense is daaraan dood,” het sy bygevoeg.
Dr. Suzette Oelofse van die Universiteit van Kaapstad se long-instituut het gesê as siftingstoetse meer gereeld gedoen word, sal gouer vasgestel word as iemand TB het en kan hulle so ook vinniger hulp kry.
“Ons moet almal saamwerk – navorsers, gesondheidswerkers, liefdadigheidsorganisasies en die gemeenskap. Dit is belangrik vir ons om Wêreld-TB-dag te vier sodat ons meer bewusmaking kan skep oor die siekte en die behandeling daarvan,”het sy bygevoeg.
Die liefdadigheidsorganisasie Gift of the Givers (GoG) het ook hulp verleen deur ’n maand se waarde in gesonde kospakkies aan sowat 200 gesinne te skenk. “Ons werk al sedert 2011 in die gemeenskap en met die aanvang van die Covid-19-pandemie het ons weer gesien hoe kwesbaar hierdie gemeenskap is. En met ons onlangse besoek aan die Aan-het-pad-kliniek het ons bewus geword van die wanvoeding van hierdie pasiënte en dat selfs van die verpleegsters hul hande diep in hul eie sakke moet steek om hulp te verleen sodat pasiënte die regte kos kry om saam met hul medikasie te gebruik,” sê Ali Sablay, projekbestuurder van GoG.
Sablay sê die kospakkies is deur GoG se dieetkundiges voorgeskryf. “Hierdie mense is die afgelope twee jaar in die agtergrond van die pandemie en half vergete, daarom het ons dit goedgedink om hier hand by te sit en te kyk hoe ons kan help om ook hier ’n positiewe bydra te lewer.”
Die res van die dag is toegewy aan TB- en HIV/Vigs-siftingstoetse van inwoners. “Elke inwoner ondergaan die siftingstoetse en so kan ons vasstel presies watter hulp die pasiënte nodig het,” het Blankenberg gesê.