Student bedags en grootbaas saans

Sy is bedags ’n student en na-ure is sy die uitvoerende hoof en stigter van ’n beginonderneming. Alexandra Lutz, ’n eerstejaar-datawetenskapstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), het die aanlyn leerplatform Milani Education begin terwyl sy n

Alexandra Lutz, ’n student aan die US en stigter van die leerplatform Milani Education.


Sy is bedags ’n student en na-ure is sy die uitvoerende hoof en stigter van ’n beginonderneming. Alexandra Lutz, ’n eerstejaar-datawetenskapstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), het die aanlyn leerplatform Milani Education begin terwyl sy nog op hoërskool was.

Milani Education, wat tans uit drie direkteure en ’n inhoudsbestuurder bestaan, is aangewys as een van sewe beginondernemings van die US wat van Maandag 26 Augustus af in die streeksronde van Entrepreneurskapsontwikkeling in die Hoër Onderwys (EDHE) se Entrepreneurskap-intervarsity 2024, gaan meeding. Hierdie kompetisie plaas die kollig op voorste studente-entrepreneurs in Suid-Afrika se 26 openbare universiteite.

Milani Education is in 2020 tydens die pandemie tot stand gebring toe Lutz ? gr. 9-leerder aan die St. John’s Diocesan School for Girls (DSG) in Pietermaritzburg was. Sy het besef ofskoon die meeste van haar eweknieë naatloos na digitale leer kon oorskakel toe skole gedwing is om te sluit, het talle leerders nie dieselfde toegang tot aanlyn materiaal gehad nie.

Lutz het met die toestemming van haar skoolhoof digitale materiaal soos werkkaarte en video’s met ’n paar leerders van die Imbeleko Foundation in die landelike KwaZulu-Natalse gemeenskap in KwaNyuswa begin deel.

Sy het aanvanklik met drie leerders gewerk – ’n tweeling, wat ook in gr. 9 was, en ’n gr. 8-leerder. “Hulle was al drie baie gretig om te leer en het reeds byna ’n maand se leertyd verloor toe ek die eerste keer kontak gemaak het.”

Lutz sê haar span het elke week hul aanlyn leerervaring assesseer en die terugvoer was bemoedigend positief. “Dit het ons geïnspireer om met die inisiatief voort te gaan en die platform te begin skep.”

Die maatskappy se naam beteken “om te groei” in isiZoeloe en is deur die assistent-kapelaan by St. John’s DSG voorgestel. Lutz het gedink dit is gepas omdat “onderwys tot eksponensiële geestelike én professionele groei by mense lei”.

Ná drie jaar se werk aan die beginprojek het Lutz finansiering verkry om ’n prototipe vir ’n aanlyn platform te ontwikkel. Milani Education is verlede jaar met inhoud wat die vorige jaar bekom is toe Lutz nog in gr. 11 was, bekendgestel.

Ter voorbereiding het Lutz met skole soos Maritzburg College, St. John’s DSG en SIMI Math kontak gemaak om wiskunde-inhoud te kry. ’n Groep gr. 11-leerders van St John’s het die “Milani Army” in die Desember-vakansie gestig om die inhoud betyds vir die bekendstelling te laat redigeer en op te laai.

Milani Education is ’n gratis aanlyn leerplatform wat opvoedkundige inhoud uit die huidige kurrikulum vir leerders in gr. 8 tot gr. 12 oral in Suid-Afrika verskaf. Die inhoud word gratis deur betroubare skole aan die beginneronderneming geskenk. Tans het ongeveer 800 leerders toegang tot meer as 1 000 video’s wat hulle as ’n aanvullende onderwyshulpmiddel kan gebruik.

Milani Education is ’n gratis aanlyn leerplatform wat opvoedkundige inhoud uit die huidige kurrikulum vir leerders in gr. 8 tot gr. 12 oor Suid-Afrika heen verskaf.

Die Milani Education-webwerf is maklik om te gebruik en bied wiskunde, Engels as huistaal en Engels as eerste addisionele taal. Volgens Lutz modereer hulle tans inhoud vir wiskundige geletterdheid, wat binnekort bekend gestel behoort te word.

Sodra die span uitbrei en die nodige finansiering het, sal Milani Education meer van die hoof-skoolvakke aanbied, sê Lutz. Milani is voornemens om sy netwerk vennootskole te verbreed om die dienste van meer onderwysers aanlyn aan studente beskikbaar te stel. Die span wil ook die inhoud in Afrikaans, isiZoeloe en isiXhosa vertaal en die platform vir datadoeltreffendheid optimaliseer.

Milani Education het onlangs ’n vennootskap met die Pebbles Project in Stellenbosch aangegaan om kinders van omliggende boerderygemeenskappe te help om toegang tot opvoedkundige hulpbronne te kry. Hulle sal op die toestelle by hierdie sentrums toegang tot die Milani-platform kan kry sodat hulle die gratis aanlyn materiaal vir huiswerk en hersiening kan gebruik.

Lutz beplan ook ’n leersentrum vir die Embo-gemeenskap in KwaZulu-Natal. “Ons wil die onderwyskloof in ons land oorbrug deur ’n veilige plek vir studente te bied om te leer, ongeag hul geografiese omgewing of sosiale status. Ons visie is om onderwys te demokratiseer sodat alle studente toegang tot wêreldklas-onderwys in die palm van die hand het,” merk Lutz op.

Lutz erken dat dit ’n uitdaging vir haar en die span was om gemotiveerd te bly. “As ’n jong entrepreneur in ’n omgewing sonder winsbejag het ek met baie verwerping te kampe gehad en dikwels gevoel ons maak nie enige vordering nie.”

Maar Lutz beskryf haarself as “hardnekkig vasberade” en sy weier om “nee” as ’n antwoord te aanvaar.

Om werk met haar studies te balanseer, beteken Lutz moet haar tyd verstandig bestuur. Sy sê sy “kompartementaliseer” haar dag om vir alles beskikbaar te wees.

Die span, wat nou uit ’n raad van drie direkteure en ’n inhoudsbestuurder bestaan, is oplossingsgedrewe en nie bang om hindernisse te oorkom nie.

Milani Education se keuring vir die streeksronde van die EDHE-kompetisie sal die span die geleentheid bied om met ander jong entrepreneurs te netwerk, sê Lutz. “Die aanbieding van ons inisiatiewe in die streeksronde stel ons in staat om ons visie en inisiatief met ’n diverse poel mense te deel en hopelik ’n paar wonderlike verhoudings te bou.”

Lutz is geensins van plan om haar entrepreneurspogings te verslap wanneer sy haar graad voltooi nie. Sy hoop om die daaglikse bestuur van Milani Education aan ’n span te kan oorgee, sodat sy ander beginondernemings kan aanpak.

You need to be Logged In to leave a comment.